<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Oom Willy en Archimedes

 
Skets: Debbie Visser.
News : 08 May 2014 124 Viewed By Alet van der Walt 0

Ek en Boeta sit en sweet met ‘n spul huiswerk  toe Pa en Oom Willy hulle voete by die agterdeur skoonvee. Boeta lyk sommer ekstra vies want Ma het gaan kuier en nou sal ons seker moet koffie maak. Oom Willy kan mos nie ry voor iemand koffie gemaak het nie. Eintlik ry Oom Willy mos eers as sy vrou bel om te sê hy moet!
“Nou wat leer julle bulletjies vandag?” Vra Oom Willy en loer oor Boeta se skouer waar die handboek oop is by Archimedes se ontdekking.
“Nee Oom, ons leer van Archimedes wat gesien het as hy in die water klim word die water meer.”
“Nou vir wat leer julle sulke twak? Enige mens kan dit mos sien, en as jy dit dan nou nie gesien het nie, dan sal jy dit gou by die dam sien.”
“Nou wat van die dam, Oom?”vra Boeta terwyl hy wag dat die ketel kook.
“Nee kyk, seuns, as jy by die Glen Alpine visgevang het saam met my, dan sal julle weet Archimedes het in sy hele lewe nie een behoorlike baber uitgetrek nie. Enige man wat goeie aas gebruik en daar vis gaan vang weet lankal wat Archimedes weet.”
Ek en Boeta kyk vir mekaar want Oom Willy kom van Archimedes tot ‘n baber sonder dat ons mooi weet hoe!
“Ek en die vrou ry mos een Saterdag-oggend donker al dam toe. Die vrou vat ‘n boek om te lees en ek pak my stokke en my geheime aasmengsel in. Nou kyk, almal het al geweet as ek daai mengsel saamvat, dan kan hulle maar oppak. Net een man vang vis as ek my mengsel eers lekker gebrei en aan die hoek gesit het.
Daardie dag was ook nie anders nie. Hier teen twaalfuur toe die son mooi water trek, toe is my arm skoon lam en ek kry naand die ander manne so jammer dat ek maar van my aas uitdeel. Man, dis net babers waar jy kyk.
Die trokkie se pens sleep amper op die grond toe ek en die vrou daar weg is. Die
ander vistermanne het tot een van die
karavane volgepak maar die babers het net aanhou byt.
Ek sit nog en wonder wat ons met al die vis gaan maak toe die vrou die draadloos aansit om die nuus te luister. Dis die een minister na die ander se stories en toe lees die man die verslag oor die damme. Man, ek het myself skoon boeglam geskrik want net daar oor die radio kom die nuusleser se stem en ek kan sommer die bekommernis in die man se stem hoor.
Die Department van Waterwese het n dringende kommissie van ondersoek aange-stel om uit te vind hoe dit moontlik is dat die Glen Alpine Dam se watervlak in net een dag met 10% kon daal!”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube