-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die trop wildehonde wat in Maart op Shayamanzi, so 40km buite Lephalale in ‘n 10ha roofdier kamp aangehou is, is Vrydag deur die Endangered Wildlife Trust (EWT) en die Limpopo departement van omgewingsake en toerisme verwyder. ‘n Prokureursbrief is ook vroeër aan die eienaar, Jannie Parsons, gestuur vir die aanhou van die wildehonde sonder ‘n permit. Parsons, wat wel permitte vir sewe van die 22 honde het, wou nie aanvanklik op EWT se versoek reageer om die honde op sy plaas vry te laat voordat verskeie opsies met kenners bespreek is nie.
Parsons het Maandag aan Noordelike Nuus gesê, hy het die honde wat ‘n rooibok op sy plaas gevang het, in ‘n kamp langs die bestaande sewe wildehond tewe aangehou. Deels om hulle te beskerm omdat hy geglo het dat wildboere hulle sou skiet, maar ook om die trop moontlik te vergroot deur met hulle te teel en later na die Wildtuin te verskuif.
Noordelike Nuus het in gesprek met Francois van den Berg, voorsitter van Agri Lephalale bevestig dat boere bekommerd is oor die skade wat so ‘n groot trop wildehonde kan aanrig. In ‘n brief aan natuurbewaring het Agri-SA namens die boere versoek dat die honde meer as 200km van Lephalale
vrygelaat word.
EWT het intussen ‘n verslag aan die department van omgewingsake en toerisme gestuur waarin hulle daarop aandring dat die honde in die Lephalale omgewing vrygelaat word. Derick van der Merwe van EWT het aan Noordelike Nuus verduidelik dat daar sowat 35 Wildehonde in die Waterberg vrylik rondbeweeg. “Hierdie deel van die Waterberge is die enigste gebied in die hele Suid-Afrika waar wildehonde vry in die natuur voorkom. Hulle is al baie jare hier en is baie sku diere. Ons het nog geen klagtes van boere ontvang dat hulle skade aanrig nie,” verduidelik hy.
Die kontroversie rondom die honde het begin toe EWT in Februarie sewe tewe wat uitgesit sou word omdat daar nie vir hulle plek gevind kon word nie, tydelik na Shayamanzi verskuif het. Die idée was om die sewe tewe by vier reuns wat vanaf KwaZulu Natal gebring sou word te verenig. Parsons het na bewering reeds permitte vir die vier gehad. Die hele trop sou dan later in die Kruger wildtuin hervestig word.
Volgens Parsons is dit waarskynlik juis dié sewe tewe wat die 15 ander honde en later nog ‘n trop van sowat 15 na Shayamanzi gelok het. “Ek het vir drie maande die sewe honde op my eie onkoste (sonder hulp van EWT) versorg en gevoer. Nou dreig hulle my met ‘n lasbrief. Die sewe tewe wat hierdie tyd van die jaar op hitte is het natuurlik die ander honde gelok en ek wou sekermaak dat die nuwe trop veilig is. Ek het gereken dat hulle moontlik deel van EWT se “wetenskaplike eksperiment” kon word om ‘n nuwe genepoel te skep. Ek wou ook nie sommer net die honde laat gaan sonder dat daar eers inspeksie gedoen is oor die toestand van die diere en of hulle dalk siektes dra nie. Ek was veral bekommerd oor hondsdolheid en het daarom natuurbewaring gekontak.”
Van der Merwe verduidelik dat hoewel hulle baie dankbaar is vir Parsons se hulp met die wildehonde, moet daar volgens die wet gehandel word. “Ons kan nie toelaat dat iemand wildehonde wat tans naas die Etiopiese wolf die mees bedreigde spesie is, sonder permitte aanhou nie.” Hy sê egter dat hulle dankbaar is vir Parsons se samewerking Vrydag, toe die diere verwyder is.
Maar Parsons meen dat sy meer as 14 jaar se ervaring met roofdiere in die Waterberg en die feit dat daar alreeds 11 permitte vir die aanhou van wildehonde aan hom uitgereik is, hom kwalifiseer om na die honde om te sien. “Ons uitstaande fasiliteite en meer as 14 jaar se ervaring en die feit dat ek Natuurbewaring onmiddellik ingelig het oor die honde in my kamp, moet vir jou wys dat ek die belange van die honde. Die belange van die boere in die gemeenskap op die hart dra. Die volgende vrae kom by my op: Is hierdie ‘n duur EWT “wetenskaplike eksperiment” wat byna verkeerd geloop het?
"Moes hulle nie
eerder so ‘n “eksperiment” (die skep van ‘n nuwe genepoel) in ‘n reservaat gedoen het nie. Die kundiges van EWT behoort tog te
geweet het dat die sewe tewe ander honde sou lok, wat moontlik groot skade vir wildboere kan aanrig en die diere self in gevaar stel. Wat sê die borge van EWT van so ‘n “eksperiment” en is die korrekte protokol gevolg?”
Volgens van der Merwe is daar in Suid-Afrika nog net so 450 wildehonde oor. Veilige habitat vir die diere is ook uiters beperk. Daarom sou EWT verkies dat die honde weereens in die Waterberg vrygelaat word. Intussen is die sewe honde wat aanvanklik op Shayamanzi aangehou is na Kwa-Zulu Natal geneem om daar deel te word van EWT se wildehond bewaringsprogram.
Die oorblywende 15 honde is steeds in aanhouding en daar sal binne die volgende week of twee besluit word wat met hulle sal gebeur. EWT wou nie bekend maak waar die honde aangehou word nie.
0 Comments