-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Mampoerfees is ‘n hoogtepunt op die jaarkalender van die Willem Prinsloo Landboumuseum en die Kultuurstokersgilde van SA. Hierdie feestelike geleentheid, wat al vir bykans 30 jaar aangebied word, vind vanjaar op Saterdag 31 Mei plaas.
Die Skotte het whiskey, die Grieke het ouzo, die Hollanders het jenewer en ons Suid-Afrikaners kan trots wees op ons eie eksklusiewe mampoer en witblits.
Mampoer staan ook bekend as tiermelk, hardehout of vuurwater. In Gauteng noem ons dit mampoer, genoem na die Pedi hoofman Mampuru. Hy was die eerste persoon wat mampoer van perskes gestook het.
Mampoer beskik ook glo oor gesondheidsvoordele: suiwer mampoer gemeng met kruie help vir griep, verkoue en koors. As smeermiddel is mampoer goed vir spatare. Meng mampoer met kaneel, naeltjies en neutmuskaat en jy het ‘n uitstekende tonikum.
Die mampoerfees word aangebied om die besondere kultuur van mampoer stook by feesgangers tuis te bring.
Mampoerstokers wat aan die Kultuurstokersgilde van SA behoort, kom van oor die hele Suid-Afrika om aan die nasionale kampioenskappe deel te neem. Beoordeling geskied volgens nasionaal erkende reëls. Hierdie kampioen drank sal by die fees per sopie geproe en per bottel verkoop word.
Likeurs met ‘n witblits basis word ook beoordeel. Elke stoker het sy eie spesialiteit likeur en daar word reeds lank met verskillende vrugte- en ander geure ge-eksperimenteer, onder andere anys, peppermint, koffie en sjokolade. Roomlikeur word ook gemaak.
Dit neem ongeveer vyf maande om so ‘n uitsonderlike likeur gereed te kry vir die kampioenskap. Die likeur het normaalweg ‘n alkholinhoud van ongeveer 23%.
Die mampoerfees is ‘n plesierige feestelike geleentheid - beleef op Saterdag, 31 Mei, boeregasvryheid op sy beste.
Die program behels onder meer:
Gaskunstenaar: Manie Jackson; Demonstrasie van tradisionele plaas- en werfaktiwiteite by die ou plaaswerf soos broodbak, kersmaak en ganse pluk; ATKV Centurion Sangersforum/pretkompetisies (aartappel skil en meer); Boeresport aangebied deur Handhawer Jeug; Uitstalling en demonstrasies van veteraantrekkers en motors; Vlooimark en kosstalletjies te kies en te keur; Biertuin; Pap en kaiings, gemmerbier en soetkoekies by die ou plaashuis; en groot verskeidenheid Mampoer en likeurs te koop en te proe.
Vir navrae skakel 012 736 2035/6. Die Willem Prinsloo Landboumuseum kan bereik word vanaf die Pretoria/Witbank snelweg (N4) afrit nr 27 na Rayton en Cullinan, langs die ou Bronkhorstspruit pad, die R104.
0 Comments