-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Op Saterdag 24 Mei vind die bekende en gewilde Boerbasaar van die APK op die hoek van JG Strijdom- en Pretoriusstraat in Mokopane plaas.
Die groot lekkerte skop om 08:00 af en alls word op die kerk se terrein gehou. Hoewel die basaar eers Saterdag is, sal daar reeds Vrydag 23 Mei, pannekoek gebak en by skole en sake-ondernemings op die dorp afgelewer word.
’n Kenmerk van die boerebasaar is die hoë gehalte rou vleis wat elke jaar te koop is. Vanjaar is ook weer geen uitsondering nie en basaargangers kan na hartelus kies uit die groot aantal bees-, vark-, skaap- en wilds-vleis wat teen uiters billike pryse aangebied word. Omdat hierdie vleis so gewild is, maak die gemeente vanjaar seker daar is oorgenoeg vleis vir almal wat wil koop.
Diegene wat die lekker van biltong wil ervaar, kan ook vir hulle klaar gesoute bees- of wildsbiltong kom koop. Kopers kan dit self by die huis laat uitdroog en dit dan geniet in die staat van droogheid soos hulle daarvan hou. Kredietfasiliteite is ook by die basaar beskikbaar.
Afgesien van die vleis is daar ook weer meer as genoeg vars groente en vrugte direk van die plaas af. Ook hier is die gehalte van die beste en kopers sal nie teleurgestel wees nie. Veral die kinders sal hulle kan verlekker in al die tuisgemaakte lekkers en ander
snoepery wat te koop is. ‘n Basaar is nie ‘n basaar as daar nie deur die dag lekker kos te koop is nie. By vanjaar se boerebasaar sal dit ook weer so wees met heerlike sosaties wat oor die kole gebraai is, pannekoek, kerrie en rys, boereworsrolletjies en die immer gewilde aartappelskyfies of “tjips”. Dan is daar ook te kies en te keur tussen al die lekker basaar nageregte wat te koop is.
In die teetuin word lekker koffie aangebied waar daar ’n blaaskans geneem kan word voor besoekers die volgende deel van die basaar aanpak.
Hierdie deel is onder meer al die pragtige handwerk wat die vroue van die gemeente reeds lank aan werk.
Wat party mense weggooi, is vir ander iets om te gebruik. Sulke artikels kan by die Wit Olifant tafel gekoop word. Hier kan ook tweedehandse CD’s en DVD’s van eienaars verwissel.
Bo en behalwe al die lekker eetgoed is daar verskeie aktiwiteite vir oud en jonk. Dit is onder meer skyfskiet waar goeie pryse gewen kan word, perderitte, ‘n “Amazing Race” en ook ‘n mini Kokkedoor-kompetisie.
Die APK nooi almal uit om hulle boerebasaar te ondersteun en deel van die pret te wees. Vir enige navrae kan die kerkkantoor by 015 491 7016 gekontak word.
0 Comments