-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Dit gaan goed met Pippie”, vertel haar ouers, Erwin en Anice, terwyl ons in die Wimpy kuier. Hoewel Pippie nog nie sonder hulp kan staan of loop nie, skort daar met haar ysterwil niks nie. Dié klein vegtertjie weet wat sy wil hê. Vir die Vanilla kolwyntjie wat die kelner bring trek sy haar mondjie op ‘n punt – ‘n besliste “nee dankie”. Die sjokolade kolwyntjie is eerder na haar smaak.
As jy haar vra of sy winkels toe wil gaan is dit ‘n defnitiewe “Ja!”. "Wil jy wortels koop, Pippie," vra Anice. "Nee," sê sy saggies. 'n Rokkie en veral skoene is baie meer na haar sin.
Pippie kry steeds een maal per maand vir ‘n week lank intense arbeids-, spraak- en fisioterapie. Anice vertel dat dit aanvanklik moeilik was om terug te gaan na die rehabilitasie sentrum in Johannesburg, maar dat dit nou, na maande se harde werk, vir Pippie lekker is. “Sy soek stimulasie en ons is selfs aangeraai om haar hier in Ellisras vir ‘n paar ure elke week in ‘n kleuterskool te sit. Die terapeute meen sy moet leer om sonder my hulp reg te kom,” vertel sy.
By die huis word daar ook hard gewerk en dit is veral met die fyn motoriese vaardighede waar Pippie besonders goed vaar. “Ek en Pippie maak juwele uit kraletjies, dit is iets wat sy besonder baie geniet. Sy sukkel so bietjie om groter items vas te hou, maar ons werk hard daaraan.”
Anice en Pippie se juwele word by Hanette’s Nails in Ellisras uitgestal.
Boetie Arno is ook deel van Pippie se “terapie” - lag terapie, want dié klein mannetjie is ‘n bondel energie. Anice vertel dat Pippie ‘n regte terggees is. As haar boetie verby haar loop gee sy hom sommer ‘n skop en lag dan uit haar magie uit. Anders as vroeër geniet sy dit nou om met maatjies te speel. “Daar is dierbare kinders wat by haar kom speel en net haar handjie wil vashou.”
Anice wat van die begin af baie betrokke was by Pippie se behandeling, sê sy oorweeg dit om kursusse te loop om beter daartoe in staat te wees om Pippie by die huis te help. “Ons hoop om uiteindelik ‘n terapeut aan te stel en so saam-saam vir Pippie die nodige behandeling by die huis te gee.”
Hoewel sy nie veel daaroor wil sê nie, is Anice steeds baie betrokke om brandslagoffertjies te help. Sy het al meer as 20 brand pakke vir kindertjies wat gebrand het uitge-stuur. “Ek probeer aan ouers raad gee waar ek kan, ek sukkel net om nie te emosioneel betrokke te raak nie. Hospitale is nie altyd ingerig om brand pasiënte wat meer as 20% brandwonde opgedoen het te help nie. Baie ma’s is nie so bevoorreg soos wat ek was om 24-uur ‘n dag by hulle kind te wees nie.”
Terwyl ek met Erwin en Anice gesels sit Pippie tussen hulle en maak met haar mond vir my soentjies. Sy antwoord op alles wat jy haar vra en kruip al hoe dieper in jou hart in. Soos enige dogtertjie haar ouderdom is dit veral pappa Erwin wat die held in die verhaal is. As jy haar vra, “vir wie is jy die liefste
Pippie? Dan kom die antwoord duidelik...Pappa. Dis sommer op die oog af duidelik dat klein Pippie oorloop van liefde en sommer baie liefde kry.
0 Comments