-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Ina Visser van Lephalale woon nou al bykans 17 jaar in Platkroon straat in Onverwacht. Die afgelope vier jaar het ‘n trop blou ape hul self tuisgemaak in die area en volgens haar al groot skade aangerig - vrugte bome word geplunder, swartsakke word oopgeskeur, die honde se kos word geëet en self hoendereiers en die kuikens wat sy groot maak, word geëet.
Haar grootste vrees is egter dat die ape haar kleinkind (3) skade sal aandoen. Dinsdagoggend het een van die trop van sowat 15 ape haar kleindogter, wat ‘n koekie in haar hand gehad het, gejaag.
Ina sê sy is raadop, maar het al die hulp en raad van natuurbewaring, die DBV, die SAP, Bambelela Wildlife Care en die Vervet Monkey Rehab probeer inwin. Die raad was sy gekry het is dat sy ‘n voerplek moet maak ‘n ent van haar huis af en die ape daar moet voer.
Sy is ook aangeraai om die hoenders op hok te hou en om te sorg dat haar kleindogter nie in die tuin eet nie. “Moet ons dan nou in die huis braai en die honde in die huis kos gee. Wie gaan betaal om my hoenders se hok te bou en om ‘n voerkuil vir die ape te maak,” wil Ina weet.
Ina is in konstante korrespondensie met Silke von Eynern an Bambelela Wildlife Care. Von Eynern meen daar is nie veel meer wat ‘n mens aan die ape kan doen nie.
“Dit is ons wat in hulle habitat inbeweeg, die blou aap populasie het reeds met 31% gekrimp
omdat daar nie meer vir hulle ‘n veilige habitat is nie. Ons moet leer om in vrede met die ape saam te leef. Dit is ‘n absolute ekologiese ramp wat in Lephalale besig is om te gebeur met die bou van huise en winkelsentrum en veral Medupi. Ons moet besef dat die ontwikkeling ‘n groot impak het op die voedselvoor-siening vir blou ape in die omgewing. Soos wat dit winter word, word hulle ook al hoe meer desperaat om kos te vind, hulle voel veilig naby mense, want dit is waar hulle moontlik kos kan kry. Daarom raai ons mense aan om voerplekke weg van hulle huise af te maak.
"‘n Leë koffieblik werk gewoonlik goed en daaglikse weggooi kos soos groente skille kan daarin gegooi word.”
Dit is egter min troos vir Ina vir wie die stryd vir lewensspasie tussen mens en dier ‘n realiteit geword het. Haar vrese val op dowe ore en dit wil voorkom of
niemand regtig iets daaraan kan of wil doen nie.
0 Comments