-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Groenes is gans te ongeorganiseerd terwyl die Bloues weer heeltemal perfeksionisties is al sukkel hulle om besluite te neem. Die Geles is nou weer te vatterig en die Rooies... wel, hulle is net mislik.
Dit is die welbekende motiveringspreker, Lynette Beer, wat verlede Dinsdag so kleurvol gesels tydens die Vroue Landbou Unie Aandstertak se sop en sjerrie aand by die Dienssentrum vir Bejaardes.
Lynette verduidelik die vier verskillende temperamente van die proto-psigologiese teorie wat die mensdom in vier kategorieë opdeel deur gebruik te maak van die kleure geel, rooi, groen en blou. Daar is die geel sosiale plesiersoekers, die rooi ambisieuse leier tipe, die analitiese, stil bloues en dan die ontspanne vreedsame groen groep.
Die teorie oor hierdie vier verskillende
temperamente kom van amper 500 jaar voor Jesus en Lynette sê dit is belangrik dat elke mens weet waar sy temperament inpas en dan ook die van ander om sodoende effektiewe kommunikasie en verhoudings tot stand te bring. Dit verminder konflik en vergroot aanvaarding. Sy maan egter dat nie almal heeltemal in die hokkie van een kleur pas nie en dat jou temperament nie noodwendig jou persoonlikheid of jou karakter is nie, maar dat dit tog ‘n rol speel in hoe jy met die wêreld assosieer.
Sy het gaste aan die skater gehad toe sy een vir een die rol van elke temperament tipe speel soos hy of sy ‘n vertrek sal binnekom. Die Bloue kom suutjies en bedees ingestap, maak seker haar hare is reg, skuif iets op die toonbank of tafel reg terwyl sy onderlangs loer om te sien wie kyk vir haar.
Die Gele bars in die vertrek in met ‘n gejuig, soengroet omtrent almal en gooi sommer sy arm om wie ookal hy mee gesels se nek. Die Groen tipe kom in en knoop geselsies met almal aan, ken almal se besigheid en stel belang in elkeen se lief en leed terwyl die Rooie inkom, vriendelik groet sonder om iemand in besonder te groet en dan, wanneer sy wel met iemand praat, sommer met die deur in die huis val en begin opvolg op werksopdragte van vroeër.
Lynette verduidelik dat die Geel en Rooi temperamente die Bloues en Groenes op die oog af oorskadu omdat Geel en Rooi deur woede gedryf word en Blou en Groen deur vrees. “Julle kan hulle breek as julle nie versigtig is nie,” waarsku sy.
Sy wys ook daarop dat elke organisasie minstens een van elk van hierdie temperament tipes nodig het om suksesvol te wees. Die rojale Geel dromers het die versigtige Blou perfeksioniste nodig om projekte tot op die einde deur te voer en die Groen vredemakers is nodig om die voort-varende Rooi besluitnemers te keer wanneer hulle die ander kleure wil vermoor.
Sy het afgesluit deur te sê elke temperament tipe se uitdaging is om ander temperamente te identifiseer en met begrip vir mekaar op te tree.
0 Comments