-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Riool wat al die afgelope maand by die pompstasie in die industriële gebied in Lephalale oorloop het besighede in dié deel van die dorp raadop.
Die munisipaliteit se departement van sanitasie moes inderhaas hierdie week noodmaatreëls toepas om te keer dat riool in stormwater afvoerpype in die rivier inloop.
Die probleem het ontstaan toe 'n pyp
verstop geraak het en die presiese plek waar die blokkasie voorkom gesoek moes word. Die munisipale span moes Woensdag riool in die nabygeleë veld laat uitloop om so gou moontlik by die blokkasie uit te kom.
Werkers het die onbenyenswaardige taak om dan in die pype af te klim en die blokkasie wat so 4m in die pyp af geleë is te verwyder.
Die besluit om die riool in die veld te laat inloop is geneem om so gou as moontlik verdere besoedeling van die rivier te verhoed.
Die munisipaliteit het begroot vir 'n riool verwyderingsvoertuig en dit sal in die
volgende finansiële jaar aangekoop kan word. 'n Vragmotor sou van die provinsiale department gestuur kon word, maar die wagtydperk is ongeveer vier dae. Daar is dus inderhaas besluit om die riool bo die blokkasie in die veld uit te pomp.
Teen druktyd was die span steeds besig om die blokkasie te verwyder en is die versekering gegee dat die riool in die veld met chemikalieë behandel sal word.
0 Comments