-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Robokopters of drones word al ‘n geruime tyd in die bekamping van renosterstropery en vee- en wilddiefstal gebruik. Volgens die Specialiced Tactical Tracking Unit (STTU) is robokopters ‘n baie effektiewe hulpmiddel om renosterstropers vanuit die lug op te spoor.
‘n Aankondiging verlede week dat robokopters met gemonteerde kameras deur die Suid-Afrikaanse Lugvaartowerheid (SACAA) verbied is, is egter slegte nuus vir spoorsnyers.
Die SACAA het aan die media bekend gemaak dat dit voortaan onwettig sal wees vir enige TV-nuuskanale en produksiespanne wat dokumentêre films maak, om robokopters te gebruik. Volgens hul verklaring wil die SACAA meer tyd hê om die gebruik en benutting van robokopters in Suid-Afrika te ondersoek om toepaslike regulasies daarvoor neer te lê.
Hector Mountany van STTU wat in Thabazimbi gestasioneer is, vertel dat renosterstropery soos ‘n vloed Lephalale en ook Thabazimbi getref het.
“Daar word nou daagliks spoorgesny om stropers in die gebied te probeer vas trek.” Volgens Mountany het renosterstropers hulle aandag op hierdie deel van die Waterberg begin vestig omdat sekuriteitsmaatreëls in die Kruger Wildtuin onlangs opgeskerp is.
“Dit wil voorkom of die Bosveld vir hulle ‘n maklike teiken geword het.”
Mountany meen dat die verbod op die film industrie rakende robokopters meriete dra.
“Ons verstaan dat daar duidelike regulasies moet wees. Die STTU het egter nog geen opdrag ontvang om die gebruik van drones te staak nie. Tot tyd en wyl sal ons voortgaan om dié effektiewe hulpmiddel te gebruik om sover moontlik renoster- en wildstropery te verhoed.”
0 Comments