-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
André van den Bergh (29) is in sy fleur uit die lewens van sy geliefdes geruk toe hy Saterdagnag die slagoffer van ‘n raaisel-agtige tref-en-trap voorval was.
Martin van Eck van SOS Sekuriteit het Saterdagaand kort voor middernag gesien hoe ‘n Isuzu dubbelkajuit bakkie vanuit Ruiterweg in Geyserstraat indraai en ‘n voetganger wat besig was om die straat te kruis raakry en wegjaag. Die slagoffer (Van den Bergh) is etlike meters in die lug geslinger deur die impak van die ongeluk.
Van Eck, SOS se reaksie bestuurder, sê hy het die bakkie agterna gesit en op die hoek van Pretorius en Geyserstraat tot stilstand gedwing. Hy het die bestuurder uit die voertuig gehaal en na die ongelukstoneel teruggeneem. Daar het hy die polisie en 'n ambulans ontbied om die erg-beseerde Van den Bergh te probeer help.
Van den Bergh het egter kort na middernag aan sy wonde beswyk.
Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag en dronkbestuur teen die bestuurder van die bakkie wat Maandagoggend in die Mokopane Landdroshof verskyn het. Die 40-jarige beskuldigde is vrygelaat op borgtog.
Van den Bergh se familie het intussen ook regsadvies ingewin en ‘n privaat-speurder aangestel om die omstandighede rondom sy dood te ondersoek.
Volgens van Eck het die bestuurder van die Isuzu nie ‘n bestuurslisensie nie en behoort ‘n moordklag in dié verband gelê te word. “Wanneer ‘n bestuurder sonder ‘n lisensie agter die stuur van ‘n voertuig inklim, plaas hy wetens ander padgebruikers se lewens in gevaar. Volgens wet moet so ‘n bestuurder van moord aangekla word as hy of sy ‘n ongeluk veroorsaak wat iemand se lewe eis.”
Nanene Engelbrecht, met wie Van den Bergh vir die laaste jaar in ‘n verhouding was, het hierdie week op sy Facebook-muur geskryf: “My liefste André, jou plek is leeg. Die huis is leeg en stil sonder jou... Dit voel of jy enige oomblik by die deur gaan instap! Die ergste is die alleenwees en jou lag wat stil geraak het, jy wat altyd my en Wanelle se siele so uit getrek het... Ek gaan jou ontsaglik baie mis...”
Van den Bergh het by J&B pompe gewerk en was bekend as ‘n rustige persoon met ‘n gemoedelike temperament. Hy was lief vir musiek en het die aand van sy dood by ‘n kuierplek in die dorp musiek gemaak.
0 Comments