-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Ek en Servaas sit nou die ander dag nog so op die stoep en niks doen nie, toe Herman daar aangejaag kom.
Herman se voete raak skaars grond toe bulder hy: “Ek het hom gesien!”
Ons weet nie wie het wat gesien nie, maar dit moet ’n oer-oupagrootjie of iets wees wat hy in die doodse ryk gesien het.
Servaas is eerste by: “Wat het jy gesien?”
Herman is teen die tyd op die stoep, by ons verby reguit yskas toe. “Ek het hom gesien”. Hy pluk die kasteeltjie uit, breek sy oor, val in die stoel en vat ’n sluk wat die blikkie halfpad leegmaak. “Die luiperd man, ek het hom gesien.” Ons weet Herman gaan vir baie jare wildtuin toe en hy het nog nooit ’n luiperd gesien nie.
Ek praat eerste: “’n Luiperd? In die willetuin?” Herman vat nog ’n sluk en gooi die leë blikkie in die vuilgoedblik. “Nou net toe ons op pad uit was. ’n Luiperd man. ’n Regte luiperd.” Ons kan nie glo hy is nou nog so op hol daaroor nie. Hulle is mos al sowat vyf uur gelede uit die wildtuin. Servaas sit op die punt van sy stoel: “Vertel.”
Herman kyk yskas toe en eers toe die tweede kasteeltjie se oor breek, praat hy: “Dit gebeur toe vanoggend.
“Ons het besluit om vir oulaas so vinnige draai te ry voor ons die karavaan haak. Ons ry ’n grondpad en op een plek ry ons al langs die rivier af. Die pad draai na links en gaan dan deur die rivier.
“Ons maak so en met die ingaan in die rivier sien ek ’n kar skuins voor ons staan. Ek hou agter hom stil om te probeer kyk wat hulle sien. Ons sien die mense kyk na links.”
“So 200m van ons af sien ons die ding sit. Eers dog ons dis ’n bobbejaan, maar toe kom hy regop en ek sê dis ’n leeu. My aller-gewigtigste se kyk is beter as myne en sy gil dit uit: “Dis ’n luiperd!”
“Toe ‘pass’ ek amper uit. Dis so wragtig een.” Ons los vir Herman dat hy klaar praat. “Daai luiperd sterk hom uit, draai sy kop na ons toe en begin doodluiters in ons rigting stap. Ek dog ek maak my nat.”
Ek kan glo Herman was buite homself van vreugde.
“Met lang rustige tree kom hy na ons toe en binne die kar klink dit soos hael op die dak soos ek en ma se kameras werk.
“Ek klim omtrent oor die rugleuning om ’n beter skoot te kry. Maar man, die ding kom net aan en aan en my hele kameralens is vol van luiperd se kind.
“Toe hy hier by ons kom, gaan hy staan en draai sy kop na ons toe.” Nou weet ek dis hier waar Herman dit verloor het.
“Ek sit so naby aan hom soos aan jou en hy lig sy kop en toe sien ek daai twee geel oë. Ek kon in hulle sien hy weet hy is beter as ons. Geen oog knip nie en hy staar net na ons. Toe skud hy sy kop, draai regs en stap om die kar die rivierbedding af.
“Ons het na die luiperd gekyk totdat hy baie verder in die bosse verdwyn het. Om nie lelike woorde van opgewondenheid te praat huis toe nie, het ek maar heelpad ‘Bly by my Heer’ geneurie.”
0 Comments