<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Jagters stap op gister se spore

 
Al die voorsitters en onder-voorsitters van die BJV se Potgietersrus tak sedert sy ontstaan in 1993 behalwe vir die heel eerste voorsitter, Oom Boet Brits, wat reeds oorlede is.
News : 20 Jun 2014 173 Viewed By Jasper Raats 0

Lede en gaste van Bosveld Jagters en Wildbewaring Vereniging het Dinsdagaand by Hoeka Toeka saam met oud-bestuurslede in die verlede in gedelf en gekyk na die ryk en trotse geskiedenis van dié vereniging.
Hulle het gehoor hoe die Potgietersrus tak in 1993 by die wildteelsentrum ontstaan het en die tweede tak in die vereniging was na Waterberg. Die vereniging self het sy ontstaan in 1969 in Polokwane - daai dae nog Pietersburg - gehad toe Steve Pretorius hier in die wintermaande besef het ‘n jagter het kamerade nodig om sy passie vir die veld en die sport te deel.
Francis Barnard wat voorheen as uitvoerende voorsitter in Polokwane gedien het, het vertel hoe die doel van die vereniging van die begin af was om die jagsport te bevorder en om jagervarings te deel. Hoe die jag kompetisie ontstaan het as ‘n geleentheid waar jagters almal hul trofeë - groot of klein - gebring het en dan met mekaar die ervarings van elke stel horings se jag kon deel.
Een van die vereniging se groot mylpale was om jare terug jaggeleenthede vir lede met die Lebowa regering te beding. Daar het die bewaring komponent van die vereniging tot stand gekom. Jagters het nie net in die reservate van Lebowa gejag nie, maar ook ‘n daadwerklike rol in die natuurbewaring daar begin speel.
“Ons het besef natuurbewaring is die akker waar die jagter sy saad saai,” het Barnard aan lede vertel. “As jy nie kan bewaar nie, kan jy nie jag nie.”
Die ooreenkoms met die Lebowa regering was so suksesvol dat die vereniging later deur dieselfde regering genader is om probleemdiere te help beheer. So het die Bosveld Jagters Vereniging ‘n voorbeeld vir alle ander jag verenigings geword.
Barnard het ook ander mylpale in die vereniging se bestaan herroep soos die jagskou in Polokwane in 1986 waar al die rekord jagtrofeë wat deur Suid-Afrikaners gehou word, uitgestal is.
Hy het afgesluit deur jagters te herinner dat die sport al hoe meer onder druk kom. Dat die vereniging deesdae al hoe groter rol speel in die opleiding van verantwoordelike wapen hantering en dat jagters hulle moet toespits op etiek en verantwoordelike optrede in die jagveld.
Hy het die skrywer PJ Schoeman aangehaal wat gesê het: “Alleen as jy jou prooi waardeer en respekteer verdien jy om ‘n geweer te dra.”

 

 

 
 

Die huidige tak voorsitter, Andries (Dippies) Dippenaar, het afgesluit met ‘n beroep op lede om hul vuurwapens en hul status as jagters op te pas. “Dit het vir baie van ons te duur geword om gereeld te jag, maar ons kan nog gereeld skiet deur aan die vereniging se skietdae deel te neem.”
"As jy nie 'n springhaas kan oppas nie sal jy ook nie 'n renoster kan oppas nie," het Francis Barnard oor die noodsaaklikheid van 'n bewaringsgesindheid onder jagters gesê.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube