-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die hoof van Mokopane Primary School, Ockert Groenewald, is op soek na twee kwajongens wat jag maak op die troppie tarentale wat hy by die skool aanhou.
Groenewald het die tarentale meer as twee jaar gelede uit sy eie sak aangekoop en op die skoolterrein gevestig. “Ek probeer ‘n verskil maak en die tarentale bring iets moois en eie aan ons omgewing na die terrein toe,” sê hy. “Nou gaan staan hierdie twee mannetjies en skiet die goed met ‘n boog dood.”
Groenewald sê die skool se sekuriteitswag het die twee jong mans met ‘n wit enkelkajuit Toyota KZ-TE bakkie voor die skoolhek by die sportveld gesien toe hulle een van die tarentale skiet. Kort daarna het ‘n inwoner van Kameeldoringpark by hulle gestop toe een besig was om oor die lemmetjiesdraad te klim - waarskynlik om sy pyl en tarentaal te gaan haal.
“Die man het hulle gekonfronteer en toe hulle astrant raak het hy die polisie ontbied. Dit is toe dat die twee in die bakkie spring en wegjaag,” vertel Groenewald. “Ongelukkig het die sekuriteitswag die bakkie se registrasienommer verkeerd neergeskryf, anders het ons hulle gehad.”
Hy voeg by dat die bakkie glo ‘n raam op het, maar van dunner materiaal as die gewone beesrame wat op bakkies aangebring word. Hy is ook in besit van die Easton pyl en jagpunt wat in ‘n dooie tarentaal op die terrein gevind is. Die pyl het vere agteraan en nie plastiese wieke soos wat algemeen vir kragboë gebruik word nie. Sulke wieke word hoofsaaklik deur tradisionele boogskutters gebruik en nie baie handelaars verskaf dit nie.
Groenewald doen ‘n beroep op die gemeenskap om enige inligting oor wie die tarentaal jagters mag wees aan hom deur te gee. Mense kan hom kontak by 082 378 6040.
0 Comments