-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Om in ‘n ongeluk betrokke te wees is erg genoeg - beserings, koste implikasie en versekering is maar net van die tameletjies wat na vore tree.
Daar is ook die wegsleep van jou voertuig wat jy in ag moet neem. Maatskappye wat hierdie diens aan die gemeenskap lewer is van uiterste belang om te verseker dat verkeer weer vloei en dat jou motor by die regte plek uitkom.
By ‘n onlangse gemeenskapspolisiërings forum vergadering in Lephalale is daar egter kommer uitgespreek oor die roekelose manier waarop sommige van die diensverskaffers te werk gaan. Daar is by die vergadering vertel dat sommige van die die maatskappye nie geregistreer is nie. Anders as vroeërjare word daar ook nie meer volgens ‘n rooster gewerk om te bepaal wie die motors mag wegsleep nie. Dit is nou maar soos die Engelse sê “first come first serve”. Sommige van die diensverskaffers het al so ver gegaan as om ‘n motorfiets aan te skaf om sou gou as moontlik deur verkeer te vleg net om dokumente eerste voor ‘n motor-voertuig eienaar se neus te druk.
Wat staan jou as eienaar te doen?
GPF voorsitter Thys Eloff sê voertuig-eienaars moet weet dat hulle kan besluit wie hulle motor wegsleep. Dit is slegs wanneer ‘n persoon sodanig beseer is dat hy nie daardie besluit kan neem nie, dat die polisie sal reël vir die wegsleep van die
voertuig. Verdere raad aan die publiek is om seker te maak dat die diensverskaffer ‘n lid van SATRA (the South African Towing and Recovery Association) of UTASA (United Towing Association of South Africa) is. Sodoende is die diensverskaffer verbind tot ‘n stel reëls wat die verbruiker grootliks beskerm. Dit sal ook verhoed dat jy meer as die norm betaal.
Skakel jou versekering en doen navraag oor die prosedure wat gevolg moet word. Hou die nommer ten alle tye byderhand.
Maak seker dat jou voertuig na ‘n paneelklopper geneem word wat deur jou versekeraar goedgekeur is. Indien jy nie verseker is nie vra uit oor die bergingskoste by die diensverskaffer. Maak ook seker dat jy bewus is van al die kostes verbonde aan die wegsleep van die voertuig voordat jou motor weggesleep word.
Vind soveel as moontlik uit oor die diensverskaffer voordat jy die operateur toelaat om jou voertuig weg te sleep. Kry die maatskappy se naam, die naam van die bestuurder, die registrasienommer, die fisiese adres en telefoonnommer.
As die operateur daarop aandring dat jy jou handtekening gee, maak seker dat dit net vir die magtiging is om die voertuig weg te sleep. Lees dus die fynskrif mooi.
Maak seker dat jy alle kosbare besitting uit die voertuig verwyder voordat dit weg-gesleep word.
Indien jy nie seker is oor die prosedures nie kan jy SATRA vir gratis advies skakel by 0861 072872.
0 Comments