-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
As ‘n mens voor die voet van ‘n 300m krans staan en jou waterbottel is so te sê leeg, dan skop jou oorlewingsdrang in en dryf die dors jou opwaarts met die hoop dat jou bene jou sal dra tot waar jy weer water kan kry. “Dit is dan dat jy begin bid,” so vertel Enrico Cloete van Lephalale wat verlede Saterdag op ‘n krans in die Wolkberg wildernis moes oornag voordat hy deur ‘n weermaghelikopter na veiligheid geneem is.
Enrico vertel dat hy, sy broer Chris en hul vriend Martin Viljoen, sowat drie maande aan die vierdag stap avontuur beplan het. Hulle het op ‘n stappers internetforum van die staproete in die Wolkberg te hore gekom. Met ‘n GPS en kos vir vyf dae het hulle Saterdagoggend vanaf die Serala Forest Station begin stap. Daar was daardie eerste dag gereeld kans om waterbottels by stroompies vol te maak.
“Ons het by ‘n kloof afgestap tot in die Wonderwoud waar ons Saterdagaand oornag het. Ons het uitgesien na die dag se stap toe ons Sondagoggend ons pad deur die woud begin navigeer. Die paadjies is nie duidelik uitgelê nie en ons moes plek-plek die omgewing verken om seker te maak dat ons op die regte pad is. Ons het gedink dat ons sowat 340m moes klim tot by die volgende stasie, maar êrens het ons ’n berekeningsfout gemaak en agtergekom dat hierdie nie ‘n staproete is wat sonder die regte toerusting en ervaring aangepak moet word nie. Ons het die waterbottels volgemaak by die laaste waterpunt en geweet dat die volgende waterbron by Thabina Falls net anderkant Pinnacle Point is.
“Ons het die hele pad geklim en ons liggame tot die uiterste gedruk. Halfpad teen Pinnacle Point op het ek geweet – ek kan nie verder nie. Ek was gedehidreer en het net genoeg krag gehad om te keer dat ek daar afval. Ek het vir die ander gesê dat hulle verder moet gaan om water te soek en hulle het my agter gelaat met Martin se selfoon. Die batterylewe van die foon was so te sê klaar so ons het ooreengekom dat ons teen sononder ons selfone sou aansit om so te kan kommunikeer. Chris en Martin wou by water uitkom en voor sononder oor Pinnacle Point wees. “Vandag kan ek nie glo dat ons met 11kg rugsakke en sonder toerusting teen daardie steilte uit is nie! “Ons was bekommerd oor Enrico wat die nag daar moes deurbring,” vertel Chris.
Teen sononder het Chris en Martin geen selfoon opvangs gehad nie. Toe Enrico niks van hulle hoor nie het hy die ergste gevrees. “Ek was bang dat hulle vasgekeer of selfs beseer is. Ek het nie geslaap nie, ek was nie bekommerd oor die wilde diere in die reservaat nie, ek was bang dat ek daar sou afval. Die wind teen daardie berg was onbeskryflik sterk - hoewel ek sowat 100kg weeg het die wind my in daardie hangmat rondgeruk asof ek niks weeg nie.”
Enrico het sy pa gebel om hulp te ontbied. “Ons het ‘n kaart van die roete by my pa in Lephalale gelos. Ek kon vir hom sê waar ek is en waar ek dink Chris en Martin kan wees.”
Die Soek- en reddingspanne van die provinsiale departement van gesondheid is ontbied en teen 10:00 het hulle die EMS-helikopter gehoor. Die reddingspan het Chris en Martin met die helikopter opgetel en daarna na Enrico gaan soek. Dit was gou duidelik dat hulle die hulp van die weermag sou moes inroep.
‘n Oryx-helikopter van die 19 Bataljon in Hoedspruit is ontbied. Een van die reddingswerkers, Jaco van Zyl, tot by Enrico uit die Oryx afgedaal met ‘n Powerade in sy hand. “Ek was nog nooit so bly om iemand en iets te drinke te sien nie. Hy het my gehelp om die harnas aan te trek en ons albei is van die krans af gehys."
Die stappers is na Haenertsburg geneem waar Enrico behandeling ontvang het.
Enrico sê hy sal beslis weer gaan stap, maar vir bergklim sien hy nie weer kans nie. Die stappers bedank die reddingspan wat volgens hulle uiters professioneel en kundig die krisis hanteer het.
0 Comments