<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

‘n Musiekkampioen met houding!

 
News : 03 Jul 2014 443 Viewed By Jasper Raats 0

Ek kuier by die boeremusieklegende, Oom Fanie du Plessis in sy Soetdoring huisie op Mokopane. Hy het sy orkes, die Hartswater Boereorkes en sy plaas op die Vaalharts Skema gelos en hiernatoe getrek om sy dogter, Hannelie, te kom bystaan toe sy so ‘n paar jaar gelede ‘n terugslag met haar gesondheid beleef het.
Sy skoene lê voor op die stoep uitgeskop. Oom Fanie sit plat op sy boude op die sitkamermat en speel vir my musiek uit toeka se dae. Rondom hom staan daar stapeltjies plate en die koffie wat Tannie Chrissie vroeër gebring het is al yskoud.
Oom Fanie sê as hy nou een orkes moet uitsonder dan is dit die Vier Transvalers. Hy het in sy kinderdae oor sy ma se draadloos op die plaas na hulle geluister - dis hulle wat die boeremusiek hoeksteen in sy hart gelê het.
Aan sy gesels kom mens gou agter dat musiek nie vir hom ‘n kwessie van lewe en dood is nie, dis baie belangriker!
En hy is bekommerd dat baie boeremusiekmakers nie genoeg moeite met hulle
musiek doen nie. Hy speel vir my ‘n plaat: “Luister na hierdie mondfluitjie speler. Ek is krities op die mondfluitjie. Hierdie ou speel maar hy los note uit.”
Oom Fanie speel dieselfde nommer op sy mondfluitjie. Daar is baie meer note as op die plaat. Die musiek is voller, ryker.
“Dis waar ek kwaad word,” sê hy en sit die mondfluitjie op die koffietafeltjie neer. “Ouens sê hulle is kenners. En as ek hoor hoe hulle speel dan dink ek: daai ou breek boeremusiek af.”
In dieselfde asem praat hy met groot lof van ander musikante. Ek vra hom oor Barrie Pieterse en die Waterberg Boere Orkes.
“Barrie speel goed. Jy kan op ‘n verhoog sien hy lewe. Hans ook. Ons kom al ‘n lang pad.”
Hy praat van Oom Hans Lombard wat vir die Waterberg orkes kitaar speel. Oom Fanie speel en oefen gereeld saam met die Waterberg orkes, maar wanneer hulle saamspeel, speel hulle onder sy naam.
Want Fanie du Plessis is ‘n legende in sy eie leeftyd. Hy het al reg oor die wêreld mondfluitjie gespeel en het ‘n hele stapel sertifikate om te wys hoeveel keer hy al die nasionale boereorkes kompetisie gewen het of onder die finaliste opgeëindig het.
“Ek wil jou iets wys,” sê hy. Hy trap versigtig oor die grammofoonplate wat die hele vloer vol lê voor hy in die gang af verdwyn. Hy kom terug met ‘n klein mondfluitjie en speel ‘n stukkie met die behendigheid van Suid-Afrika se bekendste mondfluitjie speler - soos hy in ‘n stadium bekend gestaan het. Hy laat die fluitjie ritme gee en laat hom dan huil. Hy voer my weg na Europa waar ek op die Rynrivier op ‘n bootjie dryf terwyl ek kyk hoe ‘n ou kanonperd ‘n wa vol melkkanne oor ‘n brug sleep. Dan stop Oom Fanie en ek is weer terug in sy sitkamer.
“Ek moet hierdie goed weer polish,” sê hy. Hy tel ‘n ander mondfluitjie op - een soos wat mens gewoonlik die ou alleen-cowby langs sy kampvuur in flieks sien speel. “Ek het op so kleintjie geleer,” sê hy en speel dat menige konsertina sal sukkel om by te hou. Die volheid en volledigheid van die melodie wat Oom Fanie uit ‘n kleine mondfluitjie haal is verstommend.
Oom Fanie is nie verniet een van Suid-Afrika se grootste name in die bedryf nie. Hy het sy eerste langspeelplaat 54 jaar gelede opgeneem skaars ses maande nadat hy sy eerste mondfluitjie gekoop het. “Ek het die meeste mondfluitjie langspeelplate in Suid Afrika gemaak. Dissie lieg nie!
"En dit was nie soos vandag se tyd wat ouens se hulle maak ‘n CD nie. Dis by plate maatskappye,” sê Oom Fanie. “Daai jare moes die ouens werk.”
Hoewel hy wêreldwyd bekendheid verwerf het vir sy talent met die mondfluitjie, sê Oom Fanie hy was nooit tevrede met die mondfluitjie se ‘gevoel’ nie. Sy ware liefde in sy instrument-arsenaal lê by sy 5-ry duet konsertina.
Hy is moontlik die enigste musikant in Suid-Afrika, wat hierdie konsertina kan speel. En hy kán hom speel.
Die enigste ander konsertinaspeler wat die 5-ry duet kon speel was Hans Lagrange, maar selfs hy sou erken dat dit moeilik is om by Oom Fanie vas te hou as dit by dié rare instrument kom.
Oom Fanie sê sy geheim is dat hy sy spel gedurig verander. “Ek verander die tempo en die ritme en breek die musiekstuk bietjie op. Ek raak gou verveeld. As ‘n ding eentonig word verloor ek belangstelling,” gesels hy.
Een ding is verseker: Oom Fanie du Plessis is nié eentonig nie. Hy is ‘n hand vol - veral as dit by boeremusiek kom. Hy speel die een plaat na die ander ek ek moet probeer sê watse instrument waar speel. Partykeer raai ek reg en partykeer is wat ek dink ‘n trekklavier is, al die tyd ‘n fiool of ‘n mondfluitjie.
Voor ek my kuier afsluit wys Oom Fanie vir my ‘n video van een van die Hartswater Boereorkes se optredes. As ducktails van die sestiger jare boeremusiek geluister het was hulle almal Fanie du Plessis aanhangers. Hy’t rhythm, hy’t beat en op die verhoog - het hy houding.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube