<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

In die sop oor Facebook

 
News : 18 Jul 2014 1234 Viewed By Valerie Cilliers 0

Dink twee keer voor jy tik en jou opinies en vuil wasgoed op die sosiale media netwerke loslaat...
‘n Herrie het op die laaste dag van die Bosveldfees losgebars rondom ‘n Facebook-inskrywing waarin ‘n inwoner van Lephalale herhaaldelik die gehate k-woord gebruik en nie-blanke mense as gemors uitgekryt het. Sy kommentaar het binne minute soos ‘n veldbrand versprei en is op nuusblaaie gedeel tot ontsteltenis van die gemeenskap.
Baie van sy kollegas by sy werksplek was woedend en het aangedui dat hulle nie die saak daar gaan los nie. Ironies genoeg, het die meeste van sy kollegas hulself toe óók skuldig gemaak aan dit waarvan hulle hom beskuldig het – rassistiese haatspraak.
Kenners waarsku dat sosiale media netwerke soos Facebook gebruikers laat voel dat hulle amper enigiets mag sê sonder gevolge. Min mense is egter bewus dat hulle toerekeningsvatbaar is vir die kommentaar wat hulle lewer. Eenvoudig gestel – jy bly verantwoordelik vir jou uitlatings.
Professor Tameshnie Deane, ‘n mediareg dosent by Unisa, het aan Noordelike Nuus verduidelik dat vryheid van spraak, soos wat dit in die grondwet vervat word, nie haatspraak of rassistiese kommentaar insluit nie.
Uitlatings wat iemand tot geweld kan aanhits is onwettig. Sou iemand ‘n saak teen die outeur van die kommentaar maak, kan hy of sy van haatspraak en aanhitsing tot geweld aangekla word.
Volgens Deane is haatspraak neerhalende woorde oor individue of groep gegrond op ras, godsdiens, etnisiteit, geslag of seksuele voorkeur. Sy waarsku dat kommentaar veral op sosiale media wyd en ver gesien kan word. Sy meen dat, sou ‘n persoon geweld teen ‘n individu of groep aanmoedig en daar later wel geweld gepleeg word, so ‘n persoon tot ‘n groot mate verantwoor delik gehou kan word.
Sy maan dat gebruikers van sosiale media netwerke versigtig moet wees met die kommentaar wat hulle lewer.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube