-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Dit was deur en deur ‘n ongeluk,” so sê Hermanus Potgieter, ’n familielid van Doreen Heslop (13) wie se tragiese dood die Mokopane gemeenskap die week geruk het.
Doreen, ’n Graad 9 leerling van Hoërskool Piet Potgieter, het verlede Saterdag noodlottige brandwonde opgedoen nadat sy geskok is toe sy aan ’n oorhoofse trein kabel by die Mokopane treinstasie geraak het.
Dit blyk dat Doreen en ’n vriend Saterdagmiddag net na 16:00 op die treinspoor gestap het waarna sy besluit het om teen een van die goedere treintrokke op te klim. Volgens Potgieter het sy haarself vermoedelik teen 'n oorhoofse kabel probeer optrek. Die kabels, wat die treine van elektrisiteit voorsien, dra groot kragladings en Doreen is geskok en het erge brandwonde opgedoen.
Potgieter het bevestig dat die skok so groot was dat Doreen se klere heeltemal geskroei was. Haar vriend en die sekuri-teitswag wat aan diens was het onmiddellik hulp ontbied. Doreen is eers na Mokopane Hospitaal geneem vanwaar sy toe oorgeplaas is na Mankweng Hospitaal (tussen Polokwane en Tzaneen) omdat dié hospitaal oor ’n toegeruste brandeenheid beskik het.
Doreen se lyfie was egter nie sterk genoeg om die skok te oorkom nie en sy is in die vroeë oggendure van Maandag in die hospitaal oorlede.
“Sy was gewild onder haar vriende en ’n baie talentvolle danser,” het Potgieter vertel en bygevoeg dat sy baie geliefd was by Z’s Dance Studio in Mokopane (sy het vroeër die jaar 90% gekry vir haar Disco dans vlak 3 eksamen).
Sy word deur kennisse as ’n sprankelende en vriendelike meisie onthou.
“Die gesin is verslae dat so iets kon gebeur en platgeslaan deur die verlies,” sê Potgieter. “Hulle soek nou antwoorde en probeer die trauma verwerk.”
Volgens Potgieter het Doreen se jong vriend ook berading ontvang.
Tydens ’n besoek aan die treinstasie het ’n sekuriteitswag aan Noordelike Nuus uitgewys dat die stasie duidelike sigbare tekens het om te wys dat mense die perseel op eie risiko betree. Hy het dit benadruk dat kinders nie altyd die gevaar besef as hulle tussen of op die goedere treintrokke speel nie.
Doreen laat haar ouers Latasha en Ruben Heslop, haar stiefpa Clifford Charles en haar halfsuster, Loren, agter. Sy sal Saterdag om 11:00 vanuit die Metodiste kerk in Mokopane begrawe word.
Potgieter het namens die gesin die gemeenskap bedank vir hul boodskappe, gebede en hulp. “Dankie aan almal wat bygedra het – die reaksie is oorweldigend.”
0 Comments