<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Buurtwag 1 – Inbreker 0

 
News : 28 Jul 2014 216 Viewed By Valerie Cilliers 0

‘n Man wat vermoedelik ‘n huis in Onverwacht wou beroof het Sondagoggend 03:30 sy rieme lelik styf geloop toe lede van die nuut-gestigte buurtwag ‘n burgerlike arrestasie op hom uitgevoer het.
Die verdagte was vermoedelik besig om items uit ‘n motorhuis in Skurwerrandstraat te steel toe hy op heterdaad betrap is. Die eienaar van die huis het gaan ondersoek in-stel toe sy hond onophoudelik blaf. Hy het die verdagte in die motorhuis betrap en dié het, vermoedelik gewapen, op hom afgestorm. Die inwoner kon daarin slaag om die verdagte te oorrompel en het onmiddellik die buurtwag noodnommer geskakel. Binne minute was daar nege lede van die Buurtwag voor sy hek en is ‘n burgerlike arrestasie uitgevoer. Die polisie is van die arrestasie in kennis gestel en was self ook binne minute op die toneel.
Volgens buurtwag koördineerder, Mariaan Wiid, het die polisie die verdagte erken as 'n herhaaldelike oortreder wat al vele male vir huisbraak gearresteer is.
"Die polisie is al net so moedeloos soos ons. Wat help dit jy arresteer iemand en binne 'n paar dae is hy weer op straat. Ons volgende stap as buurtwag is om die howe te nader. Ons beoog om met die hulp van 'n prokureur elke verdagte wat vir huisbraak in ons area
gearresteer word se borgaansoek teen te
staan," het sy aan Noordelike Nuus gesê.
Wiid vertel dat sy sedert die suksesvolle arrestasie Sondagoggend tientalle oproepe ontvang het van mense wat by die buurtwag wil aansluit.
“Mense se eerste vraag is, hoeveel kos dit? My antwoord is dat, as jy bereid is om 02:00 in die oggend jou buurman in nood by te staan, gaan hy dit vir jou ook doen – gratis, vry en verniet."
Wiid vertel dat daar by ‘n onlangse GPF vergadering bevestig is dat misdaad sedert die totstandkoming van die buurtwag
afgeneem het. Sy bedank GPF voorsitter Thys Eloff, Kaptein Hans Koekemoer en Sersant M Ditshela vir hul hulp en bystand met die totstandkoming van die buurtwag.
‘n Buurtwag kennisgewingbord om aan te dui dat jy aan die buurtwag behoort kan teen R136 aangeskaf word. Vir meer besonderhede oor die buurtwag skakel Mariaan Wiid by 082 306 7274.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube