-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Boere in Limpopo is geskok oor die provinsiale grondeisekommissaris, Thele Maphoto, se onthulling dat die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling in die provinsie platsak is en nie sy restitusie doelwitte vir die volgende jaar gaan bereik nie.
Maphoto het glo verlede week in die provinsiale wetgewer in Lebowakgomo te kenne gegee dat slegs 1,5% van die 664 uitstaande grondeise in Limpoppo oor die verloop van die volgende finansiële jaar afgehandel sal word. Vir meer is daar nie geld nie.
“Waar gaan die geld heen?” wou Phlippie de Beer, streeksvoorsitter van TLU SA Noord weet toe hy van Maphoto se bekentenis te hore kom. “Daar word elke jaar miljoene vir grondhervorming begroot, maar daar is nooit geld om eise af te handel nie,” het hy gesê.
Die begroting vir restitusie in Limpopo beloop R412 miljoen vir hierdie jaar en Maphoto meen daar is geen kans dat dit vergroot sal word nie.
De Beer sê hy glo daar moes al baie meer vordering met restitusie wees as mens kyk na die bedrae wat elke jaar begroot en spandeer is. “Hoe is dit dat ons so min het om te wys? Spandeer hulle dit op salarisse?”
Willem van Jaarsveld, voorsitter van Agri Limpopo, sê hy is bly om te hoor die departement erken uiteindelik dat daar nie geld is vir hierdie grondeise nie. “Maar ons is diep bekommerd dat politici en amptenary nou eers agterkom dat hulle nie hul restitusiedrome kan bekostig nie.”
Hy het sy kommer uitgespreek oor die effek wat dit gaan hê op die mense by wie daar die verwagting van grond geskep is. Boonop meen hy daar word nou nuwe verwagtings geskep met die heroopstel van die grondeise proses. “Agri SA wou van die begin af weet hoe hierdie proses gefinansier gaan word.”
Terwyl hy daarop wys dat boere die gevolge sal moet dra vir die politiekery rondom grond, sê Van Jaarsveld Agri SA gaan daadwerklike pogings aanwend om die situasie op die grond positief te hou. “Ons weet nie aldag presies hoe nie, maar ons sal alles doen wat ons kan.”
0 Comments