-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“My huis voel vir my vuil en geskaad,” so vertel ‘n getraumatiseerde, Karen de Kock, van Onverwacht wat vroeg Saterdagoggend in haar huis in Tsessebestraat beroof is. Haar seun, Barend (22), is byna raakgeskiet toe hy die rowers agterna wou sit.
Dit was omstreeks 01:30 toe Karen vreemde geluide in die studeerkamer hoor. Versigtig het sy by die deur ingeloer en ‘n dowwe lig by die venster sien skyn. Sy het dadelik besef dat die geluid wat sy hoor ‘n inbreker was wat die vensterklei probeer uitkrap. Karen het haar seun, Barend,
wakkergemaak en die polisie probeer bel.
Barend het die studeerkamer lig aan-geskakel en vir die persoon geskreeu om weg te gaan. Toe hy by die venster uitkyk het hy twee skaduwees gesien en besef dat daar meer as een persoon is en dat hulle nie van plan is om weg te hardloop nie. Die skootrekenaar en tablet op die tafel langs hom was duidelik dit waarvoor hulle probeer inkom het.
Toe hy omdraai om die items te verwyder het hy ‘n harde slag agter hom gehoor. Een van die verdagtes het die venster met ‘n stuk gereedskap uitgeslaan, soos blits deurgeklim en die skootrekenaar, tablet en staanrekenaar gegryp.
Barend het intussen ‘n krieketkolf gaan haal en wou die verdagtes agterna sit. Hy het sy kop uit die gebreekte venster gedruk om te sien in watter rigting hulle gevlug het. Dit is toe dat ‘n skoot afgaan en Barend vir die eerste keer besef die mans is gewapen. Die skoot het hom rakelings gemis.
Aan die bloedspoor na buite was dit ook duidelik dat een van hulle ‘n snywond opgedoen het. Dit het die polisie 40 minute geneem om die de Kocks van hulp te wees. ‘n Buurvrou het Vetus Schola sekuriteit ge-skakel en hulle het vasgestel dat vier verdagtes oor die agterste muur gespring het om te ontsnap. Die spore en bloedspoor is met eerste lig Saterdagoggend gevolg.
Teen Saterdagmiddag het die gesin die nuus gekry dat een van die verdagtes by die Ellisras Hospitaal opgemerk is waar hy steke aan sy hand moes kry. Hy het egter daarin geslaag om te ontsnap en ‘n rubberhandskoen vol bloed is later op sy spoor gevind. Teen druktyd was daar nog geen arrestasies nie.
Die nuwe buurtwag in Onverwacht het ook sedert die voorval Saterdagoggend ‘n nuwe wyk bygekry wat Tsessebestraat insluit. Organiseerders herinner inwoners dat dit gratis is om aan te sluit. Vir meer inligting skakel Mariaan Wiid by 082 306 7274.
0 Comments