<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Werkers loop deur onder plaasrowers

 
News : 07 Aug 2014 136 Viewed By Jasper Raats 0

Plaaswerkers van plase in die Chroommyn-omgewing naby Mokopane het verlede Donderdag kwaai deurgelop onder plaasrowers wat hulle op betaaldag van hul maandelikse lone kom beroof het.
Die eerste werker is om 14:00 die middag by die ou mynkompong deur twee mans met vuurwapens aangehou en beroof. Die plaaslike buurtwag, die Rooikat Plaaswag, en die polisie het dadelik die hulp van die Spoorsnyers - ‘n groep hoogs opgeleide polisie reserviste - ingeroep om die aanvallers te help agterna sit.
Twee is later die dag in hegtenis geneem, maar later daardie aand slaan rowers weer toe op die werkers van Wessie van der
Westhuizen, nie vêr van die toneel van die eerste aanval nie. Weereens is geld en
selfone gesteel en drie van die werkers word in die voorval geskiet. Twee is ligtelik beseer en een is nog in die hospitaal.
Minder as twee ure later met die Spoorsnyers kort op hul hakke het die
rowers weer toegeslaan op die werkers van Willem en Adri Barnard. Hulle het die werkershuise se deure afgeskop en een vrou verskeie kere met ‘n mes gesteek.
Werkers se huise is geplunder vir selfone, kontant en enige ander waardevolle items.
Die Spoorsnyers het Vrydag hulle spore gevolg tot by ‘n stormwatersloot onderdeur ‘n teepad waar hulle op vyf selfone afgekom het. Die booswigte het vermoedelik daar weggekruip totdat iemand hulle per motor kom oplaai het.
Deur die selfone se eienaars op te spoor het die polisie intussen bewus geraak van nog drie slagoffers wat in drie verskillende voorvalle onder dieselfde groep rowers deurgeloop het.
Polisie het gehoop om voor die naweek nog arrestasies in dié verband te maak.
Daar is sedert die begin van hierdie groep misdadigers se plundertog op 5 Junie reeds 10 verdagtes in hegtenis geneem, maar nie voordat hulle duisende rande se kragkabels, geld selfone, pompe en gereedskap gesteel het nie.
Hulle het reeds hierdie week in
Mookgophong in die hof verskyn op ‘n aanklag vir die besit van gesteelde goedere en in die Mokopane landdroshof vir klagte van diefstal, huisbraak, gewapende roof en poging tot moord.
Soortgelyke klagte is ook in die Tinmyne distrik naby Sterkrivier teen hulle gelê nadat hulle positief met verskeie voorvalle daar verbind kon word.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube