-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Nadat sy twee inbrekers Sondagoggend net na 04:00 uit haar slaapkamer verjaag het, het Katryn Barnard van Lephalale besluit om voortaan tussen 01:00 en 05:00 wakker te bly. “Ek wag vir hulle,” het sy Maandag aan Noordelike Nuus gesê. “Hulle gaan nie weer in my huis in kom nie.”
Katryn, wat op ‘n kleinhoewe net buite die dorp op die ou Vaalwaterpad bly, het vroeg Sondagoggend wakker geword toe haar hond onophoudelik begin blaf het. Sy het opgestaan en die ligte aangeskakel. Sy kon niemand buite die erf sien rondbeweeg nie en het weer gaan slaap. Teen 04:30 het sy gehoor hoe iemand haar slaapkamerdeur oopmaak. Sy het gedink dat dit haar seun, Johanko, is en gevra of alles reg is. Toe hy nie antwoord nie, het sy opgekyk en besef dat daar twee mense in haar kamer is en dat een ‘n koplig aan het. Sonder om twee keer te dink het sy opgespring en op hulle afgestorm.
“Ek dink nie hulle het dit verwag nie, want hulle het omgedraai en by die kombuisdeur wat hulle vroeër oopgebreek het uitgehardloop,” sê sy. Sy het agter hulle aangehardloop, maar besef sy kan hulle nie alleen vang nie. Saam met haar seun het hulle die verdagtes met haar motor agterna gesit. By die hoofpad het hulle ‘n wit Volkswagen Polo gewaar wat vinnig wegry.
Met eerste lig het dié gedugte ma-en-seun span saam met ‘n vriend, Martin Jacobs, die spore begin volg. Dit was gou duidelik dat daar vier verdagtes was. Twee het pad se kant toe gehardloop en die ander twee het op die grondpad die bosse ingehardloop. In die bosse het Martin en Johanko op ‘n sak goedere afgekom, die twee afstandbeheerkontroles en sigarette wat uit hul huis gesteel is was egter nie in die sak nie. Hulle het die spore verder gevolg en twee mans in die pad sien stap. Toe hulle nader ry het die mans weggehardloop en by die taxi
staanplek naby Pick ‘n Pay het die verdagtes in afsonderlike taxis geklim. Johanko, Martin en Katryn het die een gevolg tot waar hy by die Bosveldsentra in Onverwacht uitgeklim het. Toe hy hulle kar sien het hy weer begin hardloop. Hulle kon daarin slaag om hom plat te trek en die polisie te ontbied. Maandag het hulle verneem dat die man weer vrygelaat is weens ‘n gebrek aan bewyse.
Dit is nie die eerste keer dat hierdie gesin onder misdaad in Lephalale deurloop nie. Noordelike Nuus het in Junie berig dat
rowers tydens ‘n huisbraak ‘n handwapen teen Johanko se kop gedruk en gedreig het om hom te skiet. Hy het terugbaklei en met die hulp van die polisie en ‘n sekuriteitsmaatskappy die verdagte vasgetrek.
Intussen beoog Katryn om wag te staan en om omliggende huiseienaars en hoewe bewoners te bearbei om by die Buurtwag aan te sluit. Vir meer inligting oor die Buurtwag skakel Mariaan Wiid by 082 306 7274.
0 Comments