<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Nathan se mamma sit haar hart op haar mou

 
News : 11 Sep 2014 343 Viewed By Helena Raats 0

Die kankerlyertjie, Nathan Hogan, het onlangs sy vyfde verjaarsdag gevier. Dit was ’n traumatiese jaar vir die gesin, want 'n jaar terug is Nathan gediagnoseer met neuroblastome, ‘n tipe kanker.
Nathan het gewasse agter sy hart, nek en naby aan sy rugstring wat gewone bestraling onmoontlik maak – ’n eksperimentele proton behandeling in die VSA kan Nathan se lewe red, maar dit is so duur dat die familie nie die fondse kon bybring nie. Geld wat ingevorder is vir behandeling is gebruik vir ’n kankerbehandeling in Richardsbaai om Nathan se lewe te verleng. Indien die gewasse verder groei kan hy verlam word en sukkel om asem te haal. Die laaste behandeling was 15 Augustus en die gesin weet nie wat die pad vorentoe behels nie.
Nathan se ma, Nolene, het besluit om dié brief met ons te deel in die hoop dat dit ander ouers meer bewus sal maak van die gevare van kanker in kinders.
“As ek nou terugkyk na foto’s en terug dink aan Nathan se eerste vier jaar... sy een papogie was maar net hoe hy gelyk het, en dit was perfek. Nou is dit ‘n simptoom van neuroblastome.
Die feit dat hy nie groei nie en steeds op vier jaar 18-24 maande broekies gedra het, het “hulle” gesê dis maar sy gene of dat hy te veel rooibos tee as baba gedrink het...
Aand na aand wat hy so onrustig was, het ek sy voetjies gevryf... ek het gedink dit kalmeer hom... eintlik het dit sy pyn beter gemaak. Later het “hulle” gesê dis “night terrors”, wat algemeen is. Na hoeveel Rescue pilletjies en slaaproetine medisyne, werk dit nie.
Nathan was in ‘n stadium net gesien as ‘n stoute bederfde seuntjie, want ek moes hom orals dra. Ek het geleer om als te doen met hom op die heup, van kos maak tot 'make-up' aansit. Mense kon nie verstaan dat ek dit toegelaat het nie. Ek ook nie.... ek het altyd nog ‘n sagte plekkie vir hom en het gedink hy wil maar net naby my wees.
My twee seuntjies was bitter min siek.
Nathan het vir twee weke aanmekaar verskriklike maagpyn gekry. Hy is behandel vir hardlywigheid tot bakteriese infeksies en so meer. Dit moes vreeslik seer wees, want hy het nie vir ‘n oomblik ophou skree nie. En so val als uitmekaar toe X-strale geneem is...eintlik vir sy maag.
Ek sal nooit die oomblik vergeet toe die
radioloog vir my vra hoe lank my kind al ‘n vergrote hart het nie.... Sy mag niks verder sê nie, en ons moet wag vir die dokter. Ek het te veel gehuil om te onthou wat gesê is.Binne 48-uur kon Nathan nie meer loop nie, die chemoterapie het begin en ons hele lewe het verander.
Ek onthou hoe moeilik was dit om die woord “kanker” te sê. “Nathan het kanker.”
Ek het vir die eerste keer besef presies wat kanker is, toe ons by Steve Biko Hospitaal instap en ek soveel hartseer en pyn sien.
Ek wens dit nie vir enige iemand toe nie, moenie blind wees teen kanker soos wat ons was nie. Dit kan met enige iemand enige tyd gebeur.
Dis die aakligste ding om jou klein kindjie te moet vasdruk dat hulle bloed trek of toetse doen, maar dis net een aaklige oomblik wat so groot verskil maak. As ek vroeër bewus was, was hy dalk net op graad 1 kanker wat geneesbaar is. Nou is het hy graad 4 neuroblastoom....wat nie genees kan word nie.
En daarmee sal ek vir die res van my lewe saamleef.”  -  Mamma-Nathan

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube