-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Meer as een gesin is ‘n dak oor hulle koppe kwyt na ‘n brand Dins-dagoggend verwoesting gesaai het. Die gesinne se verlies is groot aangesien die brand ook al hulle besittings in die woning sowel as ‘n onderneming wat vanuit die woning in Schoeman straat bedryf is verwoes het.
Omstanders het vroegoggend die toneel toegesak terwyl die inwoners van die huis verslae moes toekyk hoe al hulle besittings in puin gelê word. Brandweerbeamptes was op hulle pos met drie brandweerwaens om te verhoed dat die vlamme na buur-eiendomme versprei.
Armand Badenhorst, ‘n mede huurder het aan Noordelike Nuus gesê hy was reeds by die werk toe iemand hom telefonies verwittig het van die brand.
Die eienaar van die onderneming het glo haar kleinseun skool toe geneem ten tye van die brand. Sy het later op die toneel inmekaargesak en in trane uitgebars.
Sovêr vasgestel kan word, is niemand in die voorval beseer nie. Die betrokke gesinne se familielede en vriende het aan hulle ‘n tydelike hawe voorsien.
‘n Woordvoerder van die brandweerdienste het Woensdagoggend bevestig dat die brand deur 'n foutiewe elektriese toestel van die onderneming veroorsaak is.
Die gemeenskap het kort na die voorval hulle harte oopgemaak en hulp vir die gesinne aangebied.
0 Comments