<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Leeus het boere op hol

 
News : 22 Sep 2014 110 Viewed By Jasper Raats 0

Boere in die Tolwe omgewing moes hierdie week inspring om te help soek na twee leeus wat amok gemaak het onder die vee van kommunale boere op die oewers van die Mogalakwena rivier naby Glen Alpine dam.
Henk van der Walt, voorsitter van die Tolwe Boerevereniging sê van die kommunale boere het hom genader en gevra om te help met die leeus aangesien dit lyk of die natuurbewaringspersoneel nie hond haaraf maak met die groot katte nie.
Omgewingsake se natuurbewaarders is al vir twee weke op die leeus se spoor nadat ‘n boer naby Marken hul spore op sy plaas opgemerk en gerapporteer het.
Op Noordelike Nuus se Facebook-blad het Hesti Grobler gesê die leeus is kort daarna naby aan haar huis op Baltimore verby. Rothea Nel het ook geskryf dat die leeus later by Virginia Boskamp, ook naby Baltimore gesien is. Hulle het glo daardie aand twee beeste van swart boere in die omgewing gevang voordat hulle aanbeweeg het na die Glen Alpine omgewing.
Daar het hulle glo nog ‘n bees en twee donkies gevang voordat leiers van die plaaslike gemeenskap die hulp van die boerevereniging ingeroep het. Die departement van omgewingsake het intussen besluit dat die leeus geskiet moet word, maar kon hulle net nie onder skoot kry nie.
Een van die boere het sy private helikopter beskikbaar gestel en tussen die boerevereniging, die polisie en die departement van omgewingsake is die soektog gekoördineer. ‘n Span waaronder uitgelese jagters en spoorsnyers sou die leeus te voet opvolg totdat hulle naby genoeg is om aan die helikopter te sê waar die leeus hulle bevind.
Teen Dinsdagmiddag is ‘n mannetjie uit die helikopter geskiet. Die wyfie wat saam met hom was het op die vlug geslaan en was teen Woensdagmiddag nog steeds soek.
Die bestuurder van die provinsiale omgewingsake departement kantoor, Sam Makobene, wou nie kommentaar lewer op die departement se keuse om die leeus van kant te maak nie. Boere was dit egter eens dat leeus wat eers beeste en donkies begin vang nie gerehabiliteer kan word nie.
Grobler sê dit is nie die eerste keer wat dié twee leeus in die omgewing rondsluip nie. Hulle was glo ‘n jaar vantevore ook naby aan haar huis. So naby dat hulle haar bokkiehondjie die skrik so op die lyf gejaag het dat die hondjie vir drie dae soek was.
Ander bronne wat verkies om anoniem te bly het bevestig dat daar van tyd tot tyd leeus is wat deur hierdie gebied beweeg. Daar word vermoed dat die leeus uit Botswana kom.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube