-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Sestig jaar gelede het die eerste Nissan Patrol die lig gesien. Heelwat later het hy in SA geland en sedertdien ‘n reputasie gebou as ‘n onbreekbare werkesel. Die jongste weergawe is onlangs hier bekend gestel en eerste indrukke is dat die nuwe Patrol, sonder te veel fieterjasies en moderne katoeters, steeds daardie reputasie gestand doen. Byna argaïes in ontwerp en met die sofistikering van 'n bekostigbare plaas implement, is die Patrol reg as onbreekbare werkesel.
Die nuwe Patrol is slegs beskikbaar met ‘n diesel enjin. Die normaal ge-aspireerde 90kW/282Nm 4,2l diesel oond het plek gemaak vir ‘n moderne 2953cc turbo-aangejaagde dieselenjin met brandstof inspuiting wat nou 110kW en 371Nm se piek krag lewer.
Met die hulp van hedendaagse tegnologie is die nuwe enjin veel suiniger met die sousies terwyl meeste van die krag by lae toere beskikbaar is. Die nuwe Patrol is, anders as sy voorgangers, gemaklik in die verkeer. Druk jy egter die neus in die grootpad met vyfde rat gehaak, draf die Nissan gemaklik oor die spoedgrens.
Nissan sê die nuwe Patrol gebruik slegs 10,9l diesel in 'n gemengde siklus, maar dan moet jy ligvoet met die versneller dans en daar moenie die maksimum vrag van 1 050kg agter op die bak gelaai wees nie. Wat gerusstellend is vir die manne wat in die gopse wil infoeter, is dat die nuwe enjin gemaklik met skoon en vuil diesel loop en dat ‘n tweede tenk standaard saamkom. Hierdie tenk word deur ‘n aparte gat hervul en daar is ook ‘n skakelaar en aparte meter op die instrumente paneel. Die gekombineerde kapasiteit van beide tenke is 175l.
Verdere standaardtoerusting sluit in: lugversorging, ABS-remme, twee lugsakke voor, kragstuur en elektriese vensters. Die stuurwiel kan ook verstel maar daar is geen radio/cd speler. Die kajuit is spartaans, maar funksioneel soos dit ‘n werkesel betaam. Die materiaal waarmee die groot sitplekke beklee is moes verkieslik leer of kunsleer gewees het, maar dit sit lekker gemaklik.
Die Patrol is nog van die ou-skool 4x4’s wat deur die agterwiele dryf met ‘n aparte ratkierie waarmee die voorwiele en donkie rat ingeskakel word. Dan moet jy uitklim en die nawe op die voorwiele met die hand “sluit”. ‘n Agter ewenaarslot is nuut en word binne die kajuit ge-aktiveer met ‘n draaiknop.
Met kronkelvere voor en bladvere agter sal die Patrol nie ‘n prys wen vir rygerief nie, maar hop darem nie rond op jou tipiese plaaspaaie nie. Die groot 265 rubber op 16” wiele absorbeer die ergste slaggate en met ‘n vrag agterop draf die Patrol doeksag oor die sinkplaatpad. Met ‘n agterste spoor wat effe wyer as die voorwiele loop, is die Patrol ook gemaklik in die los sand.
Die Nissan Patrol is alles wat jy soek in ‘n regte 4x4 werkesel plaasbakkie. Die kajuit is ruim genoeg sodat jy met jou hoed op jou kop kan ry. Teen R476 900 is dit ‘n welkome toevoeging tot die bakkie mark in SA.
Fotos: QuicPic
0 Comments