-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Groter klem op gemeenskapspolisiëring én die bemagtiging van gemeenskappe is nodig. Dít is AfriForum se gevolgtrekking na die vrystelling van die misdaadstatistiek vir 2013/2014 wat onder meer toon dat 47 Suid-Afrikaners na raming elke dag vermoor word.
Dié statistiek, wat deur Nkosinathi Nhleko, die minister van polisie, en generaal Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, vrygestel is dui op ’n toename in moord, geweldsmisdaad en sosiale onrus.
“Die statistiek dui aan dat basiese
misdade nie deur die SAPD gestop word nie. Die oplossing vir geweldsmisdaad gaan gepaard met doeltreffende misdaadintelligensie en vinnige reaksie nadat 'n misdaad gepleeg is. Gemeenskappe in Suid-Afrika leef in vrees weens onbevoegde en traag optrede,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeen-skapsveiligheid, gesê.
Roof met verswarende omstandighede het toegeneem met sowat 12.7% en huisrooftogte met 7.4%. Moord het met 5% toegeneem. Dit is 809 meer moorde as in die vorige jaar. Moordsyfers het gestyg van 16 259 in 2012/2013 tot 17 068 in 2013/2014. Cameron meen dat dié drastiese toename in geweld slegs die hoof gebied kan word deur gemeenskappe op 'n meer doeltreffende wyse te betrek en op te lei om misdaad te bekamp.
“Die toename in geweldsmisdade waaronder roof, roof met verswarende omstandighede en moord is kommerwekkend. Roof kan binne sekondes moord word. Die toename in onwettige wapens, wat deur die polisie aangemeld word, dra by tot die
probleem,” het Lorraine Claasen, kriminoloog by AfriForum, verduidelik.
AfriForum meen gemeenskappe moet op ’n groter skaal bemagtig word deur doeltreffende buurtwagte en reservis-stelsels wat reg toegepas word.
0 Comments