-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Michelle Green, wat aan ‘n rolstoel ge-kluister is, en haar huiswerker is verlede Donderdagoggend deur drie rowers oorval en vasgebind terwyl haar huis in Hermanstraat, Lephalale, geplunder is. “’n Mens voel so simpel en hulpeloos terwyl so iets gebeur,” het sy aan Noordelike Nuus gesê.
Green se huishulp, Francina Mampuru, was buite besig om die tuin nat te gooi, toe drie mans glo sonder seremonie die tuinhekkie oopgeskop het. Die mans het vir glo vir Mampuru terug in die huis ingedwing waar sy en Green met dasse en ‘n stuk elektriese koord vasgebind is.
“Die een man het niks gepraat nie, sy oë was bloedrooi en hy het heeltyd net gewys ons moet stilbly,” sê Mampuru.
Green is na die hoofslaapkamer geneem waar hulle haar rolstoel na die muur toe gedraai het sodat sy nie vir hulle kon kyk nie. “Hulle het die kluis se sleutel gesoek en vir my gesê dat hulle my gaan doodmaak as ek nie dit vir hulle gee nie,” vertel sy.
Kort daarna, het die drie verdagtes die huis verlaat en Green kon daarin slaag om haarself tot by Mampuru te kry. Hulle het mekaar losgemaak en het ‘n verbygaande motor gestop om hulp te vra.
Lede van die Buurtwag en die Lephalale Polisie was vining op die toneel. Almal het help soek na die drie verdagtes wat vermoedelike te voet gevlug het met vyf selfone, drie skootrekenaars, ‘n iPad, ’n video kamera en juwele. Hulle het ook die hele kluis, wat hulle nie kon oopkry nie, saamgevat.
Abrie van Vuuren van Bosveld Motors het met sy Giro Copter uit die lug probeer sien waar die verdagtes heen is. Daar word vermoed dat hulle in die industriële area se rigting gevlug het. Niemand is tot op hede gearresteer nie.
Green se man, Jacques, het die gemeenskap, die buurtwag en die polisie wat sy vrou bygestaan het bedank vir hul ondersteuning en hulp.
0 Comments