-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
‘n Hegte band is gesmee tussen vier susters na hulle op hul oudag onder een dak herenig is.
Dollie, Frieda, Minnie en Ina wie se nooiensvan Du Preez is, sê hulle is dolgelukkig en voel baie bevoorreg om saam as susters hulleself by die Piet Potgieter Ouetehuis op die dorp te vestig.
Noordelike Nuus wou weet hoe dit gebeur het dat al vier by dieselfde ouetehuis beland het. “Dit was ’n besturing waarvoor ons baie dankbaar is” het die een gesê waarop die ander drie dit beaam het. Hulle is oorspronklik van die destydse Rhodesië waar hul ouers met beeste geboer het en later-jare het elkeen hul eie koers gekies om ’n toekoms te bou. Die Du Preezs was ryklik geseën met agt kinders waarvan ses dogters en twee seuns was. Hans (84) is die oudste broer en woon in Benoni. Minnie is 82 en woon vir sowat een jaar saam met haar jonger susters, Dollie (80), Frieda (76) en Ina (70) by die tehuis. Marie Kleynhans is die oudste suster (86) en woon by haar familie in Tzaneen. Die sesde suster, Annie is op 63 jaar oorlede en David, die tweede broer het in die fleur van sy lewe op 36 gesterf.
“Hiér bou ons voort aan gelukkige herinneringe” het Dollie met ’n glinster in haar oë gesê en word gerugsteun deur Minnie wat byvoeg dat sy die ouetehuis sonder twyfel kan aanbeveel.
0 Comments