-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
‘n Zimbabwiër, Ernest Chauke (23), is noodlottig gewond toe hy in die oggendure van Saterdag deur die venster van Jan Eckard (53) se huis buite Lephalale probeer klim het.
Eckard het glo wakker geword toe die knip van die venster breek. Volgens die polisieverslag het hy ‘n skaduwee gesien en ‘n waarskuwingskoot in die rigting van die venster geskiet. Eckard het die polisie gekontak en Chauke se lyk is buite die venster in die tuin gekry.
Op die toneel het die Polisie ‘n selfoon by Chauke se lyk gekry wat die vorige aand glo by Eckard se ma se huis gesteel is. Hy het ook 'n bobbejaanbek moersleutel in sy hand gehad.
Eckard is in hegtenis geneem op aanklag van moord, maar is vrygelaat op waarskuwing kort na sy arrestasie. Hy sal op 2 Desember weer in die hof verskyn.
Intussen ondersoek die polisie die moontlikheid dat Chauke betrokke kon wees by meer voorvalle van huisbraak. Die area het die afgelope tyd kwaai deurgeloop onder inbrekers.
Drie jaar gelede was Eckard se plaas ook in die nuus toe die moordenaar van Annetjie Parkin (70) en Thomas Tshabalala oor Eckard se grond gevlug het. Spoorsnyers het die man se spore naby aan Eckard se huis verby gevolg tot by die teerpad waar hy vermoedelik opgelaai is.
Een van die Spoorsnyers, 'n groep polisie reserviste wat spesialiseer in die opvolg van plaasaanvallers, het hierdie week aan Noordelike Nuus gesê dat hy soektog na mev. Parkin se moordenaar goed onthou. Hy sê Eckard se huis lê langs ‘n vlugroete van misdadigers wat van die kleinhoewes anderkant die Mogolrivier na die teerpad tussen Lephalale en Thabazimbi vlug.
0 Comments