-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Genl. Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris se onlangse opmerking aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) dat mense se persepsies oor plaasmoorde bestuur moet word, het vurige reaksie ontketen.
Phiyega het tydens die MRK se openbare verhoor gesê die polisie beplan om ’n program dwarsoor die land van stapel te stuur om die publiek se emosies oor plaasmoorde te bestuur en dat die ware probleem nie die moorde op plase is nie, maar eerder mense se persepsies daaroor. Die polisiekommissaris het ook gesê daar moet vasgestel word wat mense se emosies oor plaasmoorde aanvuur. “Is dit dít wat hulle in die koerante lees of dat hulle werklik nie veilig voel nie?”, het sy gesê tydens die verhoor.
Ook in Limpopo het families van slagoffers na vore gekom en Phiyega as vermetel beskryf.
Haar verklaring is op ’n sekere Facebook-bladsy geplaas waar dit heftige reaksie uitgelok het. Een Facebook gebruiker het gesê Phiyega is uit voeling met die werklikhede wat op plase heers. Nog iemand op dié so-siale netwerk het gesê die polisiekommissaris sinspeel daarop dat plaasmoorde nie so erg is as wat mense dink nie terwyl ’n ander sê sy het nie ’n benul van die brutaliteit van plaasmoorde nie.
Noordelike Nuus het met Gloudie
Thomas, die dogter van die vermoorde egpaar, Gloudine (65) en Johan van Rensburg (77) van Baltimore gepraat oor haar persepsie van plaasmoorde. Thomas en haar broer, Hanno van Rensburg, het sedert 2002 reeds vier familielede aan plaasmoorde afgestaan. Hulle kleinneef Douw van Tonder (24) is op 20 Junie 2002 op sy plaas tussen Ellisras en Marken deur aanvallers met ’n jagmes gesteek en aangerand. Sy beserings was noodlottig.
Gloudine en Johan van Renburg het in hul plaashuis gesterf na aanvallers hulle oorval en geskiet het. Johan is in sy bed doodgeskiet en Gloudine is later in die hospitaal se intensiewe sorgeenheid oorlede. “Ek het die dood van my ouers herleef toe my oom Sarel van Rensburg, my oorlede pa se broer, in September op sy plaas vermoor is,” het ’n getraumatiseerde Thomas Dinsdag aan Noordelike Nuus gesê.
Thomas is onder sielkundige behandeling, op medikasie en gaan vir fisioterapie en sê haar gespanne lewe is te wyte aan al die trauma. “Die staat staan ons nie by nie,” het sy gesê.
0 Comments