-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Daar was ‘n afname in plaasaanvalle oor die afgelope vier jaar, het die nasionale polisie kommissaris, Riah Phiyega, verlede Maandag tydens die Menseregte kommissie se openbare verhoor oor veiligheid en sekuriteit van plaasgemeenskappe gesê.
Volgens die polisie se voorlegging by die verhoor was daar 71 plaasmoorde gepleeg tussen 2010 en 2011 met 665 aanvalle op plase wat vir hierdie tyd aangemeld is. In die volgende aanmeldingsjaar 2011/12 was daar 56 moorde en 514 aanvalle, maar in 2012/13 se syfers is daar weer ‘n toename tot 60 moorde en 556 aanvalle. Die afgelope jaar is daar 58 moorde gepleeg in 402 plaasaanvalle.
Phiyega het verduidelik dat die polisie nie meer onderskeid maak tussen plaasaanvalle en huisroof nie. Daar word geen onderskeid gemaak tussen misdade op plase en ander gebiede nie. “Die landbougemeenskap is vir ons belangrik, maar ons glo daaraan om oral op die grond te wees en nie in afsonderlike polisiëring nie,” het sy gesê.
TLU-SA se assistent hoofbestuurder, Genl. Chris van Zyl, sê dit is nie heeltemal regverdig om plase en die res van die land oor dieselfde kam te wil skeer nie. “Tensy die polisie kan verseker dat boere en die kabinetsministers wat in Bishop’s Court woon dieselfde vlak van beskerming geniet. Hulle betaal immers dieselfde belasting,” sê hy.
Van Zyl sê die konsep van plaasveiligheid is oor die jare al hoe meer afgewater deur dit te verbreed tot landelike veiligheid. Hy sê hoewel ander misdaad in ander landelike gebiede ook aandag verdien, is dit boere wat vermoor word, meer as enige iemand anders.
Van Zyl sê hy stem saam met Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies dat boere weerloos gelaat is toe oud-president, Thabo Mbeki die komandostelsel in 2003 afgeskaf het. Sedertdien is daar per kapita twee keer soveel boere as polisielede in Suid-Afrika vermoor en drie keer meer boere as die nasionale gemiddeld vir moorde in die land.
Burger het in sy voorlegging aan die kommissie gesê daar is destyds gevoel dat kommando’s bloot verlengings van regse groeperings was en dat swartmense nie in die kommandostelsel verteenwoordig was nie.
Van Zyl sê egter beide wit en swart mense ly nou onder misdaad in landboudistrikte. Hy sê almal in landelike gebiede is in die steek gelaat deur die regering en polisie wat nooit oud-president Mbeki se beloftes van ‘n nuwe burgerlike polisiëringstelsel in die plek van komando’s geïmplimenteer het nie.
Howel plaasaanvalle altyd gewelddadig is en aanvallers dikwels rassistiese taal gebruik, het Burger dit duidelik gemaak het dat plaasaanvalle op blanke boere nie deur ras of politiek aangedryf word nie, maar suiwer deur die inhaligheid van rowers.
0 Comments