-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Ellisras was tot onlangs toe net ‘n klein dorpie in die Bosveld waar almal mekaar geken het. Daar was slegs beperkte winkels, maar deesdae is dit ‘n reuse dorp, herdoop as Lephalale met ‘n Ellisras-uitbreiding, wat net aanhou uitbrei. Noordelike Nuus het gaan uitvind waar het die dorpie sy oorspronklike naam gekry.
Johannnes Lodewikus Lee, beter bekend as Jan Leë, was een van die eerste inwoners in Ellisras, hy was getroud met Maria Magdalena Blignaut en hulle eerste kind is gebore in 1884. Na die Anglo boere-oorlog het hy die plaas Waterkloof beset (nou Ellisras). In daardie jare het hulle die plaas maar teen ‘n fooi van ses pond per jaar gehuur. Later het Jan die aangrensende grond, Rietspruit, ook bygekoop en het hy ‘n vooruitstrewende boer geword.
Daar was ‘n rondawel op Lee se plaas opgerig wat gebruik was as ‘n privaat skool, met Lenie van der Merwe as die eerste onderwyseres. Jan Lee is oorlede in 1926 en hy is begrawe in die pioniersbegraafplaas wat tans besigtig kan word agter die GPS Hotel in Ellisras.
Lee se weduwee is later weer getroud met Pieter Barend Elardus Erasmus en hul vestig hulself op die plaas Waterkloof in 1928.
In 1925 is nog ‘n skooltjie opgerig genaamd Grootfontein op Komdt van Staden se plaas. Daar was tydelik skool gehou in die waenhuis totdat die skool geboue klaar opgerig was. Flippie van der Walt is aangestel as die instansie se hoof deur die department van onderwys. Vervoer is verskaf vir die Bosveld boere deur Martiens Loots vanaf die plaas Graaf Reinet. Loots het ‘n gedeelte van Waterkloof plaas gekoop in 1927. Hy het ‘n woonhuis en winkel op die grond opgerig. As winkeleienaar was hy afhanklik van die spoorwegbus wat gereis het vanaf Vaalwater. Om ‘n pos-agentskap op Waterkloof te kon stig, moes hulle die plek eers ‘n amptelike naam gegee het en so word Ellisras dan gedoop:
As winkel-eienaar kry Martiens Loots gereeld ‘n vaatjie wyn uit die Kaap laat kom vir die dorstige Bosveld boere en ook vir nagmaal, natuurlik. Laat een aand in 1930 kom twee van die nuwer intrekkers, Patric Ellis en Piet Erasmus, oorgestap vir ‘n beker Kaapse wyn. Die geselskap vloei toe saam met die en die naam van die pos-agentskap is sommer vining verkry deur die twee manne se vanne aanmekaar te sit en dit so vir die spoorweë te stuur.
In Augustus 1930 stop die spoorwegbus van Vaalwater die eerste keer by die nuwe posagentskap genome Ellis Ras. En so is Ellisras gedoop en het hy sy naam gekry.
Bron: Ellisras my dorp deur Hannes Engelbrecht, uitgegee die Ellisras Nuus. Slegs beskikbaar vir besigtiging by die Onverwacht Biblioteek (boek mag nie uitgeneem word nie).
0 Comments