-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Geen arrestasies is gemaak na die kaping van die bussie vol toeriste van Botswana en die moord op die bestuurder, Tshepo Majadibodu, wie se lyk op verlede week in die bosse duskant D’Nyala gevind is.
Noordelike Nuus het in die uitgawe van 17 Oktober, oor dié voorval op die voorblad berig. Die bussie met buitelandse besoekers is op die betrokke Sondagaand deur kapers voorgekeer op die R33-pad tussen Vaalwater en Lephalale, wat hulle voorgedoen het as lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Hulle was glo in volledige polisie-uniforms geklee en het na verneem word ook ’n voertuig met ’n blou lig op gehad.
Konst. Simon Makhuvele, woordvoerder van die Vaalwater-polisie, het gesê ’n opsporingsfirma van Botswana het hulle op die betrokke Sondagaand geskakel en meegedeel dat dit vir hulle vreemd is dat die bussie al vir ’n geruime tyd stilgestaan het. Hulle kon die presiese plek aan die polisie verskaf waar die bussie staan.
’n Polisievoertuig is na die Zandrift-grondpad, ongeveer 15 km buite Vaalwater gestuur, waar die polisie op 20 gestrande Botswana-burgers, almal vroue, afgekom het. Hulle is daar deur die kapers gelaat nadat hulle van hul selfone, juwele, kontant en ander waardevolle items beroof is.
Dié vroue het aan die polisie vertel dat die bestuurder van die 22-sitplek bussie net buite Lephalale deur die kapers “in hegtenis” geneem is. Een van die kapers het toe self die bussie verder bestuur tot buite Vaalwater.
Die plaaslike polisie het die saak aan die Polokwane tak oorgeplaas.
* Huisinbrake is volgens Lefoka steeds aan die toeneem in die Vaalwater-omgewing. Die inbrekers tree nie gewelddadig teenoor inwoners op nie en hardloop onmiddellik weg sodra hulle in die huise betrap word, maar dit is steeds traumaties vir die slagoffers.
Tom du Toit, oud-onderwyser van Meetsetshehla Secondary School op Vaalwater, en sy vrou is op 18 Oktober, op hul plaas in die Witklip-omgewing beroof. Gelukkig het die egpaar die rowers betyds in die huis gehoor en slegs vleis en kos is gesteel.
Lefoka het verder aan gesê dat beeste ook die afgelope tyd uit die vendusiekrale op Vaalwater gesteel is. Die polisie het reeds ’n verdagte in hegtenis geneem.
Chris Venter, ondervoorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum in Vaalwater, waarsku boere en inwoners om hul boorgate toe te sluit. “Daar is onlangs twee boorgatpompe in ons sektor gesteel. - LiN Nuus
0 Comments