<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

‘Staatsgreep’ belemmer munisipale dienslewering

 

DA provinsie leier en LP, Jacques Small en raadslid Marcelle Maritz word deur polisielede toegang tot die munisipale perseel geweier.

News : 06 Nov 2014 252 Viewed By Martie Le Grange 0

Dit was optrede wat net as ‘n ‘staatsgreep’ beskou kan word, het die Demokratiese Alliansie (DA) in Mokopane gesê nadat Limpopo polisie die plaaslike munisipale gebou se hekke en kantoordeure Dinsdag oopgebreek en beheer van die perseel oorgeneem het. Dienslewering is saam met die munisipale bestuurder en sy personeel van die perseel af geboender.
Ander werknemers is ook hardhandig van die perseel verwyder.  Munisipale dokumentasie is in ’n polisiewa gelaai en vanaf die perseel verwyder en dienste is tot stilstand gebring sonder dat die polisie enige wettige dokumentasie of lasbriewe voorgelê het.
Politiek word hiervoor blameer. Die LUR van paaie en veiligheid, Mapula Mokaba-Phukwama, het telefonies aan die DA se Limpopo leier en parlementslid, Jacques Smalle gesê die regte prosedure is nie gevolg nie. Smalle het Dinsdag besoek by die Mogalakwena Munisipaliteit afgelê en is deur die polisie se stasiebevelvoerder, Kolonel Lucas Mogwaneng, toegang tot die perseel geweier.
Smalle het gesê dit is die heel eerste keer dat hy so iets beleef het. Die polisie kon nie op versoek van Smalle, dokumentasie wat hul optrede magtig, lewer nie. “Geen kommentaar” was Mokopane stasiebevelvoerder, Kol. Lucas Mogwaneng se enigste reaksie, volgens Smalle. Dit was glo ook die reaksie van ’n polisie generaal, ’n ene Mphalatji.
Smalle is na ‘n persoonlike telefoon oproep van die LUR na Mogwaneng, toegang tot die munisipale perseel verleen. Hy het gesê die party gaan verdere stappe teen die polisie neem, onder meer saakbeskadiging.
Werknemers van die munisipaliteit moes Dinsdagoggend hoor dat hulle toegang tot hul werksplek geweier word. Die publiek is ook weggewys terwyl daar in spanning gewag is vir die Gautengse Hooggeregshof om ’n interdik toe te staan wat verhoed dat daar in die huidige bestuur van munisipale sake ingemeng word. Daar is in totaal, 18 respondente onder meer, die Limpopo polisie, COGHSTA Limpopo en sekere raadslede by die tussentydse interdik ingesluit. Die polisie het Dinsdag laatmiddag na die betekening van die interdik, hulleself van die munisipaliteit onttrek.
Dié hele petalje is volgens die munisipale bestuurder, William Kekana, toe te skryf aan nege sogenaamde nuwe raadslede onder wie die gekorsde voormalige burgemeester, Thlalefi Mashemaite, wat beweer hulle is ingesweer. Dit word egter deur mede-raadslede bevraagteken. Die sogenaamde inswering word deur mede-raadslede as onwettig beskou omdat daar geen kennisgewing, agenda en of demokratiese mandaat vir ’n raadsvergadering was waarop sulke resolusies beslis word.
Die polisie se optrede het talle vrae ontlok wat die polisie minister en COGSTA volgens Smalle ook in die parlement moes beantwoord. Die vrae is onder meer:
Wie het die aksie gemagtig en op watter gronde mag die polisie betrokke raak by munisipale sake?
Watter dissiplinêre aksie gaan geneem word teen die polisiebeamptes wat by die aksie betrokke was?
Watse maatreëls gaan in plek gestel word om sulke optrede van die polisie In die toekoms te verhoed?
Die munisipaliteit het Woensdagoggend sy normale
dienslewering voortgesit en die polisie is beveel om onmiddellik alle verwyderde dokumentasie aan die munisipaliteit terug te besorg.
Die interdik se keerdatum is op 18 November.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube