-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Vroue Landbou Unie (VLU) Potgietersrus-tak het op 8 November, aanhangers van die befaamde Suid-Afrikaanse pianis, Rocco de Villiers, laat bekoor tydens sy plaaslike optrede by die tak se 80ste bestaansjaar viering.
Vroue en enkele mans het Laerskool Krugerpark se skoolsaal volgesit in afwagting vir dié kunstenaar wat spog met vele toekennings, onder meer ’n Vonk en Tempo toekenning en verskeie nominasies.
Rocco, gebore in Harrismith in die Vrystaat is nie net ’n uitstekende verhoogkunstenaar met bykans ’n kwarteeu agter die klavier nie, hy is ook ’n vervaardiger, komponis, musiek regisseur en 'cocktail' fynproewer wie se musiekloopbaan begin het toe hy slegs vier jaar oud was.
Rocco word grotendeels deur sy verlede geïnspireer. Vroue is ook een van sy inspirasies en hy sê sy musiek weerspieël die mooi van die lewe. Tannie Mona du Plessis, Rocco se musiek onderwyser het eendag vir hom die gesê: “Wat jy wil doen is om mense te entertain, nie net om ’n paar note te speel nie.” Dit is inderdaad twee dinge wat dié pianis baie goed kan doen. Sy toeskouers was Saterdag in vervoering met ’n verskeidenheid van sy musiek wat passievol tydens sy vertoning gesorg het vir hoendervleis-oomblikke.
Sy antwoord op ’n tweede loopbaankeuse was opvallend. Hy sou kies om of ’n apteker of huisvrou te word. “Vroue is wonderlike wesens,” het hy gesê en het so ook sy eerste vier liedjies tydens sy vertoning aan hulle opgedra.
Dié pianis is gesofistikeerd dog plat-op-die-aarde. “My musiek is die klankbaan na my lewe en die klavier is my stem” het Rocco gesê.
0 Comments