-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Piet Potgieter Monument Ouetehuis is dalk ‘n tuiste vir baie oumas en oupas in die dorp, maar hierdie Kerstyd nooi hulle almal om deel te wees van die ouetehuis se feesvieringe. Met ’n stampvol program, beoog Mariana van Tonder, bestuurder van die ouetehuis om nuwe lewe in die portale van dié tehuis te blaas.
Eerste word almal genooi om te kom liggies kyk tydens die Kersfees Liggiefees by die ouetehuis – die tuin word omskep in ’n wonderwêreld met pragtige liggies wat almal sal bekoor. “Die publiek word hartlik genooi om in te loer van 1 Desember af,” sê Mariana. “Die liggies kikker almal se gemoed op van die kleinste kindertjies tot ons Alzheimer’s pasiënte.”
Volgende op die program is ’n konsert met sanger Danie Botha. Kaartjies kos slegs R100 per persoon en sluit ’n heerlike peuselpakkie in. Kaartjies kan by die kantoor gekoop word en almal is welkom om die konsert by te woon.
Op 10 Desember word ’n baie spesiale Kersboom beplan – die ouetehuis se inwo-ners is almal gevra om hul wenslys deur te gee. Die plan is dat besoekers die ouetehuis kom ondersteun en elk ’n item op die wenslys in te bring om onder die Kersboom te sit.
Op 12 Desember kom kuier Trevor Nasser. Kaartjies kos slegs R50 per persoon en sluit ’n heerlike bord spaghetti bolognaise in. Kaartjies is beskikbaar by die ouetehuis.
“Volgende jaar beplan ons selfs meer vermaak by die ouetehuis,” vertel Mariana, “ons plan is om die publiek aan te moedig om betrokke te raak by die ouetehuis met ’n kalender vol gebeure elke maand van 2015.”
Planne sluit in ’n spesiale dankseggingsgeleentheid in Januarie, ’n Hartjie my Liefie pretdag in Februarie, ‘n veteraan motorskou met Jan Braai in Mei, ’n kinder-ouerdag in Junie en die Brille en Pille fees in November.
Mariana moedig mense aan om hul steun aan die ouetehuis te wys, enige betrokkenheid word verwelkom – kom lees ’n storie, bied ’n aktiwiteit aan of kom kuier sommer net!
0 Comments