-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Na meer as 32 jaar in die onderwys en as ‘n leerkrag vir ‘n paar geslagte, het dit tyd geword vir Martiens Elmes van Laerskool Krugerpark om die tuig amptelik neer te lê en om sy beroep vir aftrede te verruil.
Elmes, gebore en gematrikuleer in Lephalale (Ellisras), se loopbaan in onderwys het in Bela-Bela afgeskop. Hy het na twee jaar in Bela-Bela, vir vier jaar in Polokwane skool gegee en daarna vir een jaar en ses maande in Zebediela die pos as waarnemende hoof beklee.
“Net groot genade het my tot hier gebring waar ek vandag in dankbaarheid kan terugkyk na hoe ek as mens ‘n verskil kon maak,” het Elmes verlede Vrydag net voor sy afskeid aan Noordelike Nuus gesê.
Vanuit klaskamer no. 23 het leerders oor die jare onderrig in Wetenskap, Biologie en Tegnologie by ‘n streng dog baie bekwame Elmes ontvang. Stoute streke is nie onder sy wakende oog geduld nie, want sulkes het gou besef daar word nie met dié meneer gemors nie. Sy pittige sêgoed is ook iets wat eie was aan hom.
Laerskool Krugerpark sowel as die gemeenskap is dit eens dat hulle hom en sy vrou Alta baie gaan mis wanneer hulle eersdaags na Kameeldrif in Pretoria gaan verhuis. Dit is ook hiér naby hulle kinders op ‘n kleinhoewe in die hartjie van die natuur waar hulle uitsien om hulself vir aftrede te vestig.
0 Comments