<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Sewe vas na plaasaanval

 
News : 20 Nov 2014 1118 Viewed By Jasper Raats 0

Boere, polisie en selfs plaaswerkers in die Bulgerivier-omgewing tussen Lephalale en Vaalwater het Sondagoggend soos een man saamgestaan toe Chris en Ronél Cronjé op hul plaas, Slangfontein, aangeval en beroof is.
Dit was een van die plaaswerkers wat eerste op die bejaarde Cronjés afgekom het en die polisie ontbied het. Die twee was in ‘n kamer vasgebind nadat vier mans hulle oorval het.
Ronél het glo Sondagoggend by die huis ingegaan om ‘n knuppel te gaan haal toe sy vermoed daar is ‘n slang in die buitevertrek omdat haar Jack Russel hondjie by die deur geblaf het.
Sy het aan die polisie vertel hoe ‘n man ‘n pistool in haar gesig gedruk het toe sy weer om die hoek van hierdie buitevertrek kom om die slang te soek.
Dries is intussen ook oorrompel en die twee is vasgebind nadat Ronél gedwing is om die kluis oop te sluit. Die rowers het twee handwapens, juwele, kontant en ‘n skootrekenaar gebuit voordat hulle te voet gevlug het.
Die polisie het vinnig op die plaaswerker se oproep gereageer en die plaaslike buurtwag in kennis gestel. Die hulp van die Spoorsnyers en die STTU-plaasveiligheidsgroep op Thabazimbi is ingeroep.
“Die samewerking was ongelooflik,” sê Vossie Vosloo van die Spoorsnyers. Beide die Spoorsnyers en STTU is spoorsnyspesialiste wat as polisiereserviste help om te reageer op plaasaanvalle en voorvalle van renosterstropery. Hy sê boere van die plaaswag het die toneel bewaar tot die polisie daar opgedaag het, daar is nie ‘n voet verkeerd gesit nie. “Ons kon dadelik sien waar die mense toegang tot die plaas gekry het en in watter rigting hulle gevlug het. Boere het die paaie afge-sper en twee private helikopters was heeltyd tot ons beskikking.” Een van hierdie helikopters is deur ‘n vermoënde boer op permanente basis aan die STTU beskikbaar gestel.
Die Spoorsnyers en STTU lede het die aanvallers se spore opgevolg en drie van die verdagtes is binne enkele ure aangekeer. Die skootrekenaar, die twee handwapens wat by die Cronjé’s gesteel is, juwele en van die gesteelde kontant is by die drie gekry.
Een van die drie mans, Lazarus Mokhobi (27) is tans uit op borgtog nadat hy vroeër in die Mokopane landdroshof verskyn het op aanklagte van onwettige renosterjag. Die ander verdagtes se moontlike betrokkenheid by renosterstropery en ander misdade in die omgewing word tans ondersoek.
Daar is ook ‘n Z88 polisiepistool by een van die verdagtes gekry. Teen druktyd kon die polisie nog nie bevestig aan wie hierdie pistool behoort het nie.
Mokhobi, Freedom Moyo (24), Mishach Motsomane (29), Takonda Molambo (25), Percy Tafuma (43), Advance Muzuidziwa (22) en Prince Nkomo (33) het Donderdag in die Lephalale landdroshof verskyn op verskeie klagte wat gewapende roof, die onwettige besit van vuurwapens en aanranding insluit.

“Ek dink hierdie sewe is ‘n groot hap uit ‘n baie aktiewe misdaad sindikaat in die omgewing,” het Vosloo opgemerk.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube