<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Van toeka tot nou... Mokopane

 

Onder: Die dorp se stadsaal in 1954. Foto: Eeufees Album, Arend Dieperink Museum.

News : 27 Nov 2014 167 Viewed By Martie Le Grange 0

Noordelike Nuus het verlede maand afge-skop met ’n reeks artikels oor Mokopane se ontwikkeling oor die laaste 160 jaar.
Wat alles voor 1890 op die dorp se gebied van plaaslike bestuur bereik is, kan volgens die Eufees Album, nie vasgestel word nie. Na die uitmeet van die dorp in die laat 1800’s het die bevolking stadig gegroei en word aangeneem dat daar wel in ’n mate een of ander soort openbare diens in die dorp gelewer is onder toesig van die Resident-Vredevegters van daardie tyd. In dieselfde tyd word die dorp opgemeet in erwe en voorsiening is gemaak vir 617 erwe, elk ’n gemiddeld van 150 x 300 Kaapse voet.
In 1904 het die eerste dorpsraad van Potgietersrust die bestuur van sake in die dorp oorgeneem. Dit het uit vyf lede bestaan en later het die ledetal ses geword. Met die dorp se verhoogde status in 1935 het die stadsraad uit nege lede bestaan en die dorp is in drie wyke verdeel en baie dienste het gevolg onder andere ’n elektrisiteitskema, ’n swembad, teerskemas, vloedwater-dreinering en ’n vuilgoedverwyderingsdiens. Die straatname, om enkeles te noem het ook oor die jare verander. Dudu Madisha rylaan soos ons dit vandag ken, se heel eerste naam was Makapaanstraat en by geleentheid van die Voortrekker Eeufees in 1938 word dit herdoop na Vredenburgstraat. Só is die destydse Markstraat vandag as Van Riebeeckweg bekend.
Die ontwikkeling van die dorp hou vele heimweë en betekenis. In 1888 is die eerste poskantoor gestig. Pos het twee keer per week vanaf Pretoria gekom per koets. ’n Reis van 180 myl is in 36 uur afgelê.  Die dorp se eerste polisiestasie, ’n gebou van hout en sink, is gebou in 1893 op die hoek van Hooge- en Retiefstraat. Toentertyd was die tronk, ook van sink en hout, op die huidige magistraatskantoorperseel. Die polisie was toe genoem die Zuid-Afrikaansche Republikeinse Polisie van Transvaal.
So sluit ons vandeesweek se artikel af met die spoorlyn met ’n afstand van 177 myl (sowat 284 km) wat deur die dorp loop. Die lyn is tussen 27 April 1897 en 31 Mei 1899 deur die Pretoria-Pietersburg-Spoorweg-Maatschappy Beperk gebou. Die gedeelte tot by Mokopane is 116 jaar gelede geopen en hoewel dit volgens die Eeufees Album, nie met sekerheid vasgestel kan word nie, wil dit voorkom asof Potgietersruststasie ook in daardie stadium geopen is. Op 1 Julie dieselfde jaar het die eerste trein van Pretoria af oor die nuwe lyn geloop.

 

 

 
 

Die ou treinstasie. Foto: Eeufees Album, Arend Dieperink Museum.

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube