-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Angelique van der Merwe, ’n bekende karwag by die Sakesentrum parkeerterrein in Onverwacht, is verlede Saterdag ernstig beseer toe die be-stuurder van ‘n Toyota Fortuner oor haar been gery het waar sy in die parkeerterrein gesit het.
Sy sê die een oomblik het die man nog uit die parkeerplek gery. “Hy het soos enige ander
bestuurder uit die parkering gery en toe met ‘n spoed op my afgepyl,” sê Angelique.
Sy meen dit was moedswillig. “Ek
onthou die glimlag op sy gesig en sy een goue tand,” het sy in trane vertel toe Noordelike Nuus haar Dinsdag in die
Ellisras Hospitaal besoek het.
Volgens Angelique het lede van die gemeenskap wat in die omtrek was en gesien het wat gebeur, die bestuurder van die Fortuner voorgekeer toe hy probeer wegry. Angelique beweer dit is toe dat die bestuurder se vrou haar met haar handsak geslaan het en vir die mense daar gesê het om haar man uit te los.
'n Ooggetuie wat die ongeluk sien gebeur het, het bevestig dat die man probeer het om weg te jaag, maar meen hy het dalk per ongeluk versnel toe sy voet vermoedelik van die koppelaar afgly.
Angelique se hart is baie seer, sy sê die voorval het op ‘n slegte tyd gebeur omdat haar seun onlangs sy werk verloor het.
Sy word volgende week oorgeplaas na Mokopane Hospitaal waar sy geopereer sal word om penne in haar been te sit waar dit op twee plekke gebreek is.
Na die operasie sal sy vir vier maande fisioterapie moet ontvang waartydens sy nie sal kan werk nie. Haar man en seun kan nie saamgaan na Mokopane toe nie. Hulle gaan in Lephalale vir haar moet wag en Kersfees sonder hul vrou en ma deurbring. “Ek wil net hê my man en seun moet 'n goeie Kersfees hê,” sê sy.
Intussen beweer Angelique dat die polisie wel op die toneel opgedaag het en die man glo na die hospitaal geneem het om sy bloed vir alkoholvlakke te toets.
Adjudant offisier Frans Makoena het egter gesê dat geen formele klag teen die bestuurder van die Fortuner aanhandig gemaak is nie.
Angelique sê ook dat niemand haar tot op hede in die hospitaal besoek het om 'n verklaring af te neem nie.
Makoena verduidelik dat polisie die saak slegs verder sou voer indien daar rede was om te vermoed dat die voorval roekeloos en met opset of onder die invloed van alkohol plaasgevind het.
‘Engele vir Nood’ in Lephalale het ‘n fonds gestig om die gesin deur die volgende vier maande te help terwyl Angelique nie ‘n inkomste kan verdien nie. “My man sal wel die huis huur kan dek,” sê sy.
Enige iemand wat ‘n bydrae wil maak, kan op Engele vir Nood se Facebook-blad gaan kyk vir besonderhede kry.
Angelique sê byvoorbaat dankie aan almal wat haar en haar gesin bystaan.
0 Comments