<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Pippie - drie jaar later

 
News : 17 Dec 2014 712 Viewed 0

LEPHALALE - Dit is daardie tyd van die jaar dat die Kruger-gesin van Lephalale hulle asems begin ophou. Want sien, Oujaarsaand kruip stadig maar seker nader. ‘n Dag op die kalender wat hulle eerder wil vergeet, selfs uitvee as hulle kon. Daar sal nie op 31 Desember vuurwerke, sjampanje of ‘n groot partytjie by die Krugers se huis wees nie. Dis nie ‘n dag wat hulle sommer wil vier nie, want saam met Oujaarsaand kom traumatiese herinneringe wat moeilik stil gemaak word.
Dit sal hierdie Oujaarsaand drie jaar wees sedert Erwin en Anice Kruger se blondekop dogtertjie, Isabella (Pippie), toe net twee-jaar oud, in ‘n fratsongeluk erg verbrand het. Dokters het gesê dat sy die derde graadse brandwonde, oor meer as 80% van haar lyfie, nie kan oorleef nie. Van regoor SA, en selfs in die buiteland, het mense begin bid vir ‘n wonderwerk  - en dit gekry. Vandag is Pippie vir só baie mense ‘n bewys dat God gebede verhoor. Pippie se verhaal het sedert daardie traumatiese aand wêreldwyd bekend geword en steeds lees mense met groot belangstelling en empatie die verhaal van
Pippie in die boek wat oor haar stryd om oorlewing geskryf is.
Waar ookal sy gaan word mense geinspireer deur haar en haar familie se innerlike krag. Mense wil weet: Hoe gaan ‘n mens aan met jou lewe, hoe bou jy aan jou gesin, hoe kom jy lewendig anderkant uit?
Dit was juis met hierdie vrae wat Erwin en Anice die afgelope paar jare moes worstel. Dit het jare se harde werk, terapie en versorging geneem om te kom waar hulle vandag is. En Anice sal gou erken dat dit Pippie is wat hulle inspireer om aan te gaan.
Vandag is sy ‘n vyf-jarige kleuter met die waagmoed van tien dapper soldate. Hoewel sy nie self kan staan of loop nie, skort daar met haar wil en vreugde niks nie.
Stadig maar seker is sy besig om te leer kruip en as jy haar vang dat sy om rol om te kom waar sy wil wees, lag sy uit haar magie uit. Wanneer sy daardie nuwe paar skoene aan het, lig sy haar beentjie op sodat jy dit tog net moet raaksien. Daar is altyd n glimlag vir enige een wat na haar kant toe kyk. Met haar fluister woordjies kan sy menigte om haar pinkie draai. Maar Pippie is op haar gelukkigste by die huis met Pappa, Mamma en boetie Arno om haar. En as jy dan nog die rolprent  As jy Sing vir haar aansit is als reg met die wêreld.
Dit is genade en ‘n hand van bo wat hierdie gesin van dag tot dag dra en gemaak het dat hulle te midde van groot aanslae op hulle menswees en ongegronde aantuigings in die media, kon staande bly. “Dis net die Here wat ‘n mens deur so iets kan dra,” vertel Anice.
Hulle sal self erken dat hulle sku geword het vir die media, en ook nie so maklik meer vertrou nie. Tog is hulle opgewonde oor die pad vorentoe en hul lewe in Lephalale.
Intussen word Pippie by die dag mooier. ‘n Mens kyk sommer gou verby die letsels en sien die mensie wat so baie lief kan hê, en met alles tevrede is.
Die Krugers hou nou wel nie feesvieringe vir die Oujaar nie, maar daar is baie om te vier in die lewe van klein Pippie.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube