-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Bobbejane in die Bosveld is glad nie ’n seldsame gesig nie, maar ‘n reuse bobbejaanmannetjie in jou agtererf in die dorp is ’n heel ander storie...
Sarie Schutte van Hermanstraat in Ellisras, Lephalale het Dinsdagaand ’n bobbejaan in ’n boom naby haar huis opgemerk.
Woensdagoggend om 09:15 het die bobbejaan haar erf binnegekom en met die Schutte’s se geliefde Amerikaanse pitbull, Timo baklei. Timo, wat as ‘n kwaai hond en puik waghond beskryf word, het verwoed baklei en alhoewel hy ‘n paar byte ingekry het, het die bobbejaan hom lelik verniel. Timo se linker voorbeen is oopgeskeur en hy moes steke by sy linkeroog kry. Die hond se spiere is ook geskeur.
Die bobbejaan is vort en Sarie het die natuurbewaringsdepartement gekontak om die bobbejaan van kant te maak.
“My grootste bekommernis is wat as so ’n beseerde dier ‘n inwoner teëkom – iemand kan lelik seerkry,” het Sarie vertel. “’n Mens besef nie hoe groot so ’n bobbejaan werklik is nie.”
Die dier is uiteindelik in Ellisstraat van kant gemaak. Dit is moontlik dat ’n tweede, kleiner bobbejaan steeds in die area is – inwoners word gevra om omgewingsake te skakel by tel: 014 763 2776.
0 Comments