<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Johanko spandeer 21ste in hospitaalbed

 
News : 09 Jan 2015 59 Viewed By Mariska Ehlers 0

Johanko Barnard, wat vroeg in Desember ernstige brandwonde opgedoen het toe die petrolpyp van die minibus waaraan hy en ’n vriend gewerk het, gebars het en aan die brand geraak het, het Dinsdag sy 21ste verjaardag in die hospitaal deurgebring.
Na vele veloorplantings, sterk hy steeds aan in die Milpark Hospitaal en hoop hy om binnekort ontslaan te word.
Volgens sy ma, Katryn Barnard, het hy baie pyn verduur nadat hy ‘n suksesvolle veloorplanting ontvang het aan sy regterarm asook onder sy linkeroog. Die oorplantings was suksesvol en dokters is tevrede met die brand slagoffer se spoedige herstel. Johanko het vyf operasies ondergaan sedert hy in die hoësorg eenheid opgeneem is.
“Hy raak nou moeg vir die hospitaal en hy mis sy kinders, Jacques (3) en Christine (15 maande), maar elke dag gaan dit beter,” sê Katryn. “Dit is die laaste manier waarop ons gedink het hy sy 21ste verjaardag sou vier!”
“Ek is in dié stadium baie dankbaar oor alles wat God vir my kind gedoen het en soms het ek gesit en gewonder hoekom so iets met ons moes gebeur, maar dan besef ek weereens hoe dankbaar ek is om my kind nog by my te hê en dat hy lewe, al lê daar vele uitdagings vir ons en hom voor in die toekoms,” sê Katryn.
Sy herstelpad vorentoe is steeds ’n lang een. Katryn verduidelik dat Johanko dalk nooit weer die volle gebruik van sy arm sal terugkry nie – hy sal vir ‘n jaar lank ’n drukverband moet dra en vir minstens twee jaar fisioterapie moet kry vir sy arm.
Hulle is egter  positief dat hy eersdaags ontslaan sal word.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube