-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE - Tafelronde Kameeldoring’ 92 se nuwe voorsitter, Frans Blignaut, het tydens sy onlangse inhuldiging as voorsitter gesê hy het groot planne vir die jaar en hoop om meer betrokke te raak by projekte om behoeftige mense by te staan.
Hy het ’n paar projekte uitgelig en vra dat die gemeenskap die projekte sal ondersteun. Die Zamakuhle skool vir gestremdes lê die Tafelronde na aan die hart. ’n Volledige skoolgebou is met die hulp van die organisasie gebou.
Die jaarlikse Shavathon vir KANSA is in Maart en in Meimaand samel die Tafelronde fondse in by die jaarlikse Veteraan motorskou wat by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis gehou word. Daar word in Junie weer ’n winterprojek gehou vir diegene wat ’n behoefte het aan ’n kombers of ’n warm koppie sop nodig het.
Blignaut is sedert 2012 aktief by Tafelronde betrokke. As nuwe voorsitter het hy onderneem om te fokus op die werwing van nuwe lede om sodoende as organisasie sterker te kan staan.
Goeie waardes is vir hom baie belangrik. Hy het uitgelig dat ’n goeie fondasie gepaard gaan met goeie geestelike ingesteldheid terwyl die noodsaaklikheid om te belê in gesondheid en kwaliteit tyd saam familie nie agterweë gelaat moet word nie.
Blignaut het op 16 Januarie tydens ‘n funksie by Euphoria Gholf Landgoed die leisels by Nikolaas Le Roux oorgeneem.
Die Tafelronde noem ook dat lesers Noordelike Nuus moet dophou vir die aankondiging van opwindende projektewat die organisasie vir hierdie jaar beplan. Die Tafelronde se hoofdoel is fondsinsameling vir liefdadigheidswerk en tot op hede het die organisasie 'n uitmuntende rekord. In 2014 het die Tafelronde R120 000 aan die Dienssentrum vir Bejaardes oorhandig.
- Martie Pretorius
0 Comments