-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Johanko Barnard is al ‘n huishoudelike naam in Lephalale. Hy was die afgelope jaar gereeld in die nuus, eers vir die dapper manier waarop hy twee gewapende rooftogte gefnuik het en toe meer onlangs vir die fratsongeluk waarin hy erge brandwonde opgedoen het.
Die minibus waaraan Johanko en ‘n vriend gewerk het, se enjin het in sy gesig ontplof toe hulle dit probeer aanskakel. Sedertdien is hy deur meer as sewe weke van hel.
Dié dapper jongman het hierdie week aan Noordelike Nuus vertel hoe hy die dae in die hospitaal om gebid het.
Dokters kon elke dag net ‘n sekere hoeveelheid pynmedikasie vir hom voorskryf en dit was selde genoeg om die pyn heeltemal te verlig.
Johanko is uiteindelik terug by die huis waar hy goed aansterk. Hy kry elke dag fisioterapie vir sy arm wat erg beskadig is tydens die ontploffing. Hy sê die fisioterapie is nogal ‘n uitdaging, maar hy sien kans daarvoor. "Ek is positief en voel goed."
Johanko se ma, Katryn, sê dat elkeen in die gemeenskap se gebede en boodskappe die gesin deur die 53 dae tot nou toe gedra het. Die Barnards staan mekaar met alles by en elkeen in die gesin aanvaar sy of haar verantwoordelikheid om ‘n rol te speel in die proses tot Johanko se genesing.
“Soms moet ons kwaai met Johanko wees en hom weer positief kry en ander kere wil hy weer te veel te vinnig doen. Dan moet ons met hom raas," sê Katryn. Johanko het gesê dat hy graag vir Martin Jacobs wil bedank dat hy tydens die ongeluk die vuur doodgeslaan het en hom na die hospitaal geneem het.
0 Comments