-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Die twee malaria-verwante sterfte gevalle in Lephalale oor die Desember vakansie het weer vrae laat ontstaan oor die Malaria status van Lephalale.
Volgens Emily Molokomme, woordvoerder van Ellisras Hospitaal, is twee buitelanders oor die
Desember vakansie in dié hospitaal aan die siekte dood. Altesaam vyf pasiënte is in Desember in dié hospitaal vir malaria opgeneem.
“Dit is meestal onwettige immigrante wat met Malaria gediagnoseer word, omrede hulle deur die
rivier die land inkom en soms vir dae langs die rivier oornag en dan ‘n maklike teiken vir muskiete is," sê Molokomme. Sy is bekommerd dat pasiënte nie
betyds mediese behandeling ontvang nie, aangesien die simptome baie soos gewone griep s'n lyk.
Dr. Willie Barnard, ‘n mediese praktisyn in
Lephalale meen dat daar nie werklik rede tot kommer is nie. “Lephalale is nie ‘n malaria-gebied nie, maar ek het al oor die jare gevalle behandel waar mense wat in die Ellisras gedeelte van die dorp woon, wel malaria opgedoen het. Die malaria-voetspoor wissel jaarliks en hang grootliks af van die reënvalsyfers. Dokters in Lephalale besef dat daar wel ‘n minimale risiko vir malaria in ons gebied is. Omdat ons so naby aan die grens woon, behoort dokters te toets vir die malaria-virus sodra simptome geïdentifiseer word.”
Die simptome volgens Dr Johan Landman, ook van Lephalale, is: erge hoofpyn, naarheid, lyfseer en hoë koors (40 grade en hoër) wat sporadies voorkom. Volgens Landman is dit ‘n mite dat malaria net tydens hoë koors geïdentifiseer kan word. Hy meen dokters in Lephalale behoort as ‘n reël te toets vir dié virus.
Dr Barnard is van mening dat Lephalale van die beste laboratorium tegnikusse in die land het as dit kom by die identifisering van malaria. Hy meen dat die meeste mense malaria deur die sogenaamde reisigers muskiet opdoen. Dit is malaria-draende muskiete wat vanuit malaria gebiede in Lephalale in bagasie of voertuie van toeriste en immigrante aankom.
Beide Dr Barnard en Landman meen dat inwoners wat malaria gebiede besoek die voorgeskrewe medikasie moet neem. Hoewel die medikasie nie altyd 100% effektief is nie, sal dit die proses vertraag en teenwerk. Wanneer jy in ‘n malaria-gebied gaan kuier, moet jy seker maak dat jy nie tussen 22:00 en 07:00 buite is nie. Dit is volgens Dr Barnard juis dan dat die muskiet wyfie, wat die virus dra, aktief is.
Volgens Francois van den Berg, Voorsitter van Agri Lephalale word daar nie tans in die Lephalale gebied teen malaria gespuit nie. Die Departement van gesondheid was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
0 Comments