-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE - “Ek het geweier om toe te laat dat ’n arrogante dief sommer-so wegkom met my kind se goed!”
Dit was die woorde van Anne-Marie Nieuwenhuysen, ’n dapper tuisteskepper, wat besluit het om ’n dief te takel wat verlede week helder oordag doodluiters in haar huis ingestap het en haar seun se tablet probeer steel het.
Anne-Marie klop haarself op die skouer na sy ’n vrou wat haarself as ’n werksoeker voorgedoen het prontuit vir diefstal aangevat het. Sy vertel dat die vrou by haar tuinhekkie kom aansoek doen het vir werk. Anne-Marie het twee versoeke vir los takies van die hand gewys. ’n Derde versoek, dié keer vir ’n glas water, het Nieuwenhuysen voor kans gesien en omgedraai om vir die vrou water te gaan haal. Toe sy terugkom uit haar kombuis het sy die vrou uit haar een seun se slaapkamer sien loop na die voordeur.
“Die vrou het nie agtergekom ek het haar in die huis gesien nie en ek het besluit om myself eers in te hou,” het Anne-Marie gesê.
Na die vrou die glas water gedrink het, het Anne-Marie haar arm gegryp. Die twee het in ’n struweling betrokke geraak. Anne-Marie het ’n vispen wat binne haar bereik was gegryp en na die vrou geslaan. Die vrou het haar handsak laat val en weggehardloop – sy is bo-oor die kompleks se toe sekuriteitshek waarna sy op die vlug geslaan het.
Anne-Marie het haar seun se tablet in die oortreder se handsak gekry waarin daar ook ’n onvolledige en moontlike vals CV was
waarin die vrou haarself as ’n eerlike, hardwerkende werker voordoen.
Links: Die dief se handsak met die tablet,‘n oorjassie en kopdoek daarin.
0 Comments