-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Ek het nog nooit soveel teenstand teen enige beoogde myn tydens ‘n openbare deelname proses beleef nie,” het Albert Jordaan wat aan die hoof staan van Sylvania Platinum se beoogde Volspruit myn in die Nyl vloedvlakte Dinsdag gesê.
Boere het dit Dinsdag tydens 'n openbare deelname vergadering weer duidelik gemaak dat hulle nie die myn hier wil hê nie. Sylvania beplan twee oopgroewe reg langs die Nylrivier, op die plase Volspruit en Zoetveld.
Omdat die Nyl in Maart verlede jaar begin vloei het, het E-Science uitstel gevra vir die indiening van die omgewingsimpakstudie verslag. Tot verlede jaar was al die hidrologiese impakstudies gegrond op gerekenariseerde modulering van moontlike scenarios.
Die grondwaterstudie verslag het op die teorie gerus dat die Nyl se oppervlakwater en grondwater van mekaar geskei is deur ‘n ondeurdringbare kleilaag.
Boere het egter volgehou dat die ondergrondse watertafel direk deur die stand van water of afwesigheid daarvan in die Nyl geaffekteer word.
Dinsdag het die hidroloog dr. Giep du Toit, wat verantwoordelik was vir die grondwater impakstudie bevestig dat die ondergrondse watertafel noemenswaardig gestyg het tydens die vloed van verlede jaar. Sy grafieke het gewys dat die watertafel op plekke met byna tien meter hoër was.
Boere steun swaar op grondwater vir hul boerderybedrywighede. Hulle is ook nie tevrede met die omgewingskonsultant, Theo Fishcer en Du Toit se aanname dat die myn nie ‘n noemenswaardige impak op boorgate van naburige plase gaan hê nie. Abdul Tayob wat die myn se onmiddelike buurman sal wees wys daarop dat sy boorgat ‘n daadwerklike impak op sy ander buurman s’n het. “Partykeer bel hy my en vra dat ek my spilpunt vir ‘n uur of so afksakel sodat hy sy tenks kan volpomp. Hoe op aarde kan twee gate, elk ‘n kilometer in deursnee en twee keer so diep as my boorgat nie op ons impakteer nie?” Bennie Genis wat op die Springbokvlakte grootgeword en geboer het, het daarop gewys dat boorgate in dié gebied selfs sover as 10 km uitmekaar ‘n invloed op mekaar kan hê.
Fischer het aan Noordelike Nuus verduidelik dat die konsultante hul bes doen om op wetenskaplike wyse die impak van die oopgroewe te voorspel met ‘n beperkte hoeveelheid toets boorgate. Hy sê dit sal te duur wees om die hele gebied vol gate te boor en die werklike impak te bepaal.
Boere het herhaaldelik vir beide Fischer en Du Toit gevra of hulle kan waarborg dat boere se grondwater nie geaffekteer sal word nie. “Ons kan nie,” het Du Toit eenvoudig geantwoord.
Indien daar wel met mynbedrywighede voortgegaan word en boere se boorgate droog op sal daar eers bewys moet word dat dit as gevolg van mynbedrywighede is, sê Fischer.
Dr. Petro Erasmus, die omgewingskonsultant wat die waterlisensie aansoek vir Sylvania behartig, sê boere sal dit aan die departement van waterwese moet rapporteer as hul boorgate opdroog. Die departement moet dan ‘n ondersoek loods om te sien wat die oorsaak is, en sou daar dan bevind word dat die myn wel die skuldige party is, sal die departement stappe voorskryf wat hopelik die grondwatervlakke sal herstel.
Mnr. Tiyane Maluleke van die departement van waterwese in Limpopo sê die ondersoekproses kan soms maande duur. Hy en Erasmus het saamgestem dat net ‘n paar dae sonder water soms genoeg is om ‘n boerdery ten gronde te laat gaan.
0 Comments